Nuwe Bok-trui: Springbok op mou

Die Springbok-trui vir die Wêreldbeker in Japan later vanjaar is amptelik vandag bekendgestel.

Asics, wat die trui vervaardig, het saam met die Bokke meer as 10 verskillende weergawes vir die trui oorweeg. Daar was ook 30 verskillende materiale in die laboratorium in Japan getoets, terwyl daar ook onderhoude met die spelers gevoer is oor hulle voorkeure vir die trui.

“Dit is ’n massiewe jaar vir die Springbokke. Hulle poog om hulle derde Wêreldbeker in Japan te wen,” sê Jurie Roux, hoof-uitvoerende beampte van SA Rugby, wat self mal is oor die trui.

Roux sê die kleinste detail is belangrik in die Bokke se poging om die beker te wen. “Dit sluit Asics se harde werk in om die mees gevorderde trui te ontwerp.”

Die trui is as “unstoppable” gedoop.

Volgens Tendai Mtawarira bied die trui die perfekte balans tussen “sterk en vinnig,” terwyl dit alle verwagtinge oortref wat die gemak van die trui behels.

Nie alle Bok-ondersteuners is egter gaande oor die nuwe trui nie. Die meeste se ongelukkigheid gaan oor die Springbok wat op die linkermou van die trui sit.

Asics het op Twitter op die mense se uitlatings gereageer en gesê die Springbok sit op die linkerskouer, soos die WB-regulasies vereis.

Die trui sal môre teen R750 in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *