’n Man is in hegtenis geneem vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen na die mislukte ontvoering naby die Puma-vulstasie in Landbouweg.
Kapt. Tessa Jansen, woordvoerder vir die polisie, sê: “Sers. Appie en sers. Brink van die honde-eenheid was besig met klagtes toe ’n onbekende man hulle voorkeer. Die man het aan die beamptes verduidelik dat hy met ’n vuurwapen gedreig was. Hy het die verdagte beskryf. Hy het ook gesê die verdagte wou hom forseer om saam met die verdagte en twee van sy vriende na Bloemfontein te ry.”
Voorts sê sy: “Sers. Appie het die man gevra om hom te vergesel om ’n saak by die polisiekantoor oop te maak, maar hy het geweier omrede hy vir sy lewe gevrees het. Die man het geloop. Die beamptes het die inligting opgevolg en het ’n wit Toyota Quantum met drie insittendes oorkant die petrolstasie gewaar. Terwyl sers. Appie aan die insittendes vrae gevra het, het ’n onbekende man hom geroep en gesê een van die insittendes het uit die Quantum geklim en het ’n swart vuurwapen met ’n bruin handvatsel in die veld gegooi. Sers. Brink het by die insittendes gebly terwyl sers. Appie die rewolwer in die bosse gevind het. Die verdagte is vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in hegtenis geneem.”
“Die lede van die honde-eenheid in Kimberley word vir hulle gereedheid en pligsgetroue diens bedank. Elke vuurwapen wat verwyder word, is een vuurwapen minder wat deur misdaad misbruik kan word,” sluit kapt. Jansen af.



