Meer as 45 000 huise kon gebou word met die geld wat aan korrupsie en wanbestuur verloor is, sê Ivan Meyer, minister van finansies van die Wes-Kaap, tydens die DA se begrotingvoorlegging in Kimberley.
“Die gevolge van wanbestuur en korrupsie kan byna in elke department gesien word. In die gesondheidsdepartement is daar nie medikasie nie. Die staatsambulansvloot besit helfte van die hoeveelheid voertuie wat hulle veronderstel is om te hê. Behuising word vertraag, aangesien die lys tot 53 097 gegroei het vir huise wat nog gebou moet word. In die onderwysdepartement word busoperateurs nie betaal nie en leerders mis onderrig,” verduidelik Andew Louw, DA-premierskandidaat van die Noord-Kaap.
Voorts sê hy: “Mac Jack, die LUR van finansies in die Noord-Kaap, het in 2019 tydens sy toespraak oor die Appropriation Bill erken hulle moet korrupsie uitwis en dat swak bestuur van die ekonomie van die provinsie al ’n geruime tyd bestaan. Dit kan nie méér duidelik wees dat die ANC vir die afgelope 25 jaar misluk het nie.”
Meyer sê dit is die doel van die DA om die provinsie se finansies reg te ruk. “Onder die ANC het dienslewering net ’n droom geword. Ons mense kan nie langer wag nie. Verandering is nodig. En verandering is op pad,” verduidelik Meyer.
Voorts sê hy: “Die begroting vir 2020 is baie kleiner. Hulle het te min van hulle begroting spandeer. Die ANC het ons mense doelbewus in hierdie situasie gelos omdat hulle weet die DA gaan hierdie provinsie wen. Hulle wil die kiesers straf. Ons gaan dit herstel deur maatskaplike-, provinsiale padinstandhouding-, titelakte- en nedersettingstoelae, asook toelae vir dwelmbehandeling, te verminder.” “Ons gaan die gravy train van korrupsie en wanbestuur stopsit deur nuwe wetgewing in te stel. Die wetgewing sal dit moontlik maak om staatsamptenare krimineel vir wanbestuur en korrupsie te vervolg.”









