Steve Hofmeyr se seun, Devon Hofmeyr, is Woensdagaand gevra om die KykNet Ghoemas-prysuitdeling te verlaat, berig Netwerk24. Die Ghoemas het Woensdagaand in die Sun Arena in Pretoria plaasgevind.
Devon en sy vriend, Francois van der Merwe, het glo in die gehoor opgestaan en gesê: “Dit is ‘n leun dat die Afrikaanse taal en kultuur by die Ghoemas respekteer word en dat dit inderwaarheid gesensureer word.”
Volgens Netwerk24 het Devon gesê hy het gereageer nadat iemand op die verhoog gesê het die Afrikaanse taal en kultuur moet gerespekteer word en Afrikaanse geleenthede moet gegun word om te kan bestaan.
Devon het glo gesê hy kan nie onthou wie die spreker was nie, maar dat hy en Francois nie saamgestem het met die sentiment nie.
Dit volg nadat MultiChoice Woensdag versoek het dat Steve Hofmeyr nie meer deel is van die Ghoema-musiektoekennings nie, “omdat die sanger se siening nie met die maatskappy se waardes ooreenstem nie.”
MultiChoice het versoek dat die musiekvideo Die Land van die lys van benoemings verwyder word.
Die lied word deur Steve en verskeie kunstenaars onder andere Jay, Dewald Wasserfall, Ruhan du Toit, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld gesing.
Talle Afrikaanse sangers het egter die Ghoemas geboikot.
Luidens Netwerk24 het Devon glo vir Jean Kriek, ‘n vriend van hom wat betrokke is by die VF Plus se jeugtak, gesê dat hy die Ghoems gaan bywoon en daar ‘n standpunt wil inneem.
Daar is toe plakkate deur die twee en nog vriende laat maak. Die plakkate is glo vasgehou terwyl die gaste by die geleentheid aangekom het.
Nadat Devon en Francois die spreker op die verhoog in die rede geval het, is hulle glo deur veiligheidswagte gevra om te loop. “Ons wou nie die verrigtinge ontwrig nie, ons wou net ‘n standpunt inneem.”
Bok Radio het Donderdag ‘n persverklaring uitgereik waarin hulle sê hulle onttrek hulle borgskap van die 2019 KykNet Ghoema-toekenningsgeleentheid.
Bok Radio borg die kategorie Gewildste liedjie van die jaar, waarin die liedjie Die Land, ‘n benoeming was.




