Die polisie verwelkom die suksesvolle vervolging van Benjamin Harry Maarman (23). Maarman is op 17 April tot 18 jaar tronkstraf vir verkragting en ernstige aanranding in die Kimberley-streekshof opgelê.
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie in Kimberley, sê: “Die beskuldigde het omstreeks 18:00 op 26 April 2017 die slagoffer vanaf die winkels huis toe vergesel. Hulle was bekend aan mekaar. Net voor hulle die slagoffer se huis in Ivory Park in Roodepan genader het, het die beskuldigde die slagoffer in die veld ingetrek, haar verkrag en met ’n klip teen die kop geslaan. Die beskuldigde is in hegtenis geneem, vervolg en is 15 jaar vir verkragting en drie jaar vir aanranding opgelê.”
Die waarnemende provinsiale kommissaris van misdaadopsporing in die Noord-Kaap, brig. Nicky Mills, het adj.-sers. Daniel Satisfied van die Galeshewe-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) vir die suksesvolle vervolging bedank. “Die polisie vertrou die vonnis dien as waarskuwing aan alle oortreders,” sluit kapt. Kock af.



