KIMBERLEY. – Linja Allen, van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, staan ’n aansoek teen om Whatsapp-boodskappe van groepe waarvan sy moontlik administrateur was, aan die landdroshof hier bloot te lê.
Dit kom na ‘n aansoek van Rudi Ferreira, ’n bekende sakeman en die satiriese skrywer “Muishond Malan”, dat Allen die inhoud van dié Whatsapp-boodskappe aan die hof blootlê.
Deel van tussentydse interdik
Die aansoek om blootlegging van dié dokumente vorm deel van n tussentydse interdik wat Allen teen Ferreira aangebring het. Ferreira staan dié interdik tee.
Van groepe af verwyder
Ferreira se regspan het aangevoer Allen het haarself ure na Ferreira se aansoek om blootlegging vroeër die maand, van dié groepe af verwyder.
Die moontlikheid bestaan dat netwerk-verskaffers betrek sal word vir dié aansoek, aangesien lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens glo deel was van dié groepe. Die inhoud van die boodskappe kan verrykende gevolge hê, is in die hof aangehoor.
Allen en Ferreira se regspanne sal op 3 Mei die blootlegging van dié dokumente argumenteer.
*Allen het op 1 Maart ’n dringende interdik teen Ferreira gebring.
Allen voer aan Ferreira het onder die skuilnaam Muishond Malan, asook in sy persoonlike hoedanigheid, haar gedreig.


