Jason Rohde (50), die moordenaar, se aansoek om verlof tot appel oor sy skuldigbevinding, is van die hand gewys, berig Netwerk24.
Rohde is skuldig bevind aan moord nadat sy vrou Susan Rohde se liggaam in Julie 2016 in die egpaar se hotelkamer van die Spier-hotel buite Stellenbosch gevind is.
Volgens Netwerk24 het regter Gaayat Salie-Hlophe Dinsdagoggend in die hooggeregshof in Kaapstad gesê: “Die verdedigingspan (van Rohde) het hul hofstukke slegs herhaal soos dit in die verhoor gestel is.”
Sy het gesê die aansoek het haar nie oorreed dat hy ‘n redelike kans tot sukses in ‘n ander hof gaan hê nie, daarom is dit van die hand gewys.
Luidens Netwerk24 gaan Tony Moster, Rohde se prokureur, nou ‘n direkte aansoek in die appèlhof in Bloemfontein bring.
Rohde is 18 jaar tronkstraf opgelê en nog vyf jaar weens regsverydeling. Hy dien tans 20 jaar effektiewe tronkstraf uit.



