INTERNASIONAAL. – Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Sondag satellietbeelde uitgereik van ’n tropiese sisteem, Alvaro, wat besig is om in die Mosambiekse kanaal te vorm.
Alvaro het as ’n tropiese ontwrigting noordoos van Beira ontwikkel. Volgens die weerdiens is die sisteem besig om vanaf ’n tropiese depressie na ’n gematigde tropiese storm te verander.
’n Waarskuwing van swaar reën en donderstorms is ook aan Malawiese burgers uitgereik.
Alvaro beweeg tans ooswaarts en sal Madagaskar se ooskus vroeg op die 2de Januarie tref. Madagaskar se inwoners is oor vloede, verspoelings, vlugonderbrekings en siektes soos cholera en malaria wat kan uitbreek, gewaarsku. Verder kan rou riool en skadelike afvalstowwe wat met vloedwater meng, gesondheidsrisiko’s veroorsaak.
Die tropiese storm hou sover geen direkte gevaar of ontwrigtende weer vir Suid-Afrika in nie, aangesien die storm gaan ontbind sodra dit oor landoppervlakte beweeg.
Bronne: SAWS, Crisis24



