DA bevraagteken buitensporige duur uitwissing van emmerstelsel in N-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie (DA) sal die kantoor van die ouditeur-generaal versoek om ‘n forensiese ondersoek te doen rondom huidige en vorige uitgawes in verband met die uitwissing van emmertoilette in die Noord-Kaap.

Harold McGluwa, LPW – DA Noord-Kaapse Provinsiale Leier het gesê: “Dit kom te midde van ‘n skok-aankondiging deur die Premier, Dr. Zamani Saul, dat die regering R120 miljoen vir die uitroei van 540 emmertoilette in Campbell toegewys het. Dit kom neer op ‘n koste van R222 000 vir die uitroeiing van ‘n enkele eenheid.”

“Terwyl Sensus 2022 uitwys dat die Noord-Kaap die meeste huishoudings het wat emmers as hul primêre toiletfasiliteit gebruik, het die DA geen vertroue in die regering om ekstra fondse effektief aan te wend om lang uitstaande sanitasie-agterstande aan te spreek nie.”

“Die regering het ‘n reeks onvervulde teikens vir emmerstelsel-uitwissing wat terugdateer na 2006 en 2015. In 2016 is R21 miljoen vir emmeruitwissing in Dawid Kruiper bewillig, maar tog is daar omtrent 7 000 informele huishoudings wat steeds sonder toilette in hierdie munisipaliteit is.”

“Verlede jaar het die departement van water en sanitasie (DWS) Wêreldtoiletdag in Siyancuma gevier deur eerder toiletrolle en toiletborsels uit te deel aan inwoners wat nie toilette het nie pleks daarvan om daarop te fokus om emmers uit te roei. Dit was nadat dit in ‘n voorlegging deur die ouditeur-generaal aan die lig gekom het dat die DWS weer nie sy teiken bereik het om die emmertoiletstelsel uit te roei nie. Van die toegekende bedrag van net meer as R292 miljoen, vir die uitroei van emmertoilette in die Noord-Kaap en die Vrystaat, is slegs R49 miljoen, oftewel 17% van die begroting, bestee.”

“Afgesien van swak finansiële en projekbestuur met betrekking tot emmerstelsel-uitwissing in die Noord-Kaap, hang daar ook ‘n donker wolk oor die regering ten opsigte van ‘n twyfelagtige tender wat meer as ‘n dekade gelede aan ‘n maatskappy, bekend as Siyenza, toegeken is. Die maatskappy, wat glo ‘n bedrieglike belastingklaringsertifikaat gehad het, het die regering R185 miljoen gekos sonder dat dit enige impak op die emmerstelsel-uitwissing program gehad het.”

“Gegewe die geskiedenis van emmeruitwissing in die provinsie en die jongste multimiljoenrand-toekenning, is die DA hoogs bekommerd dat die regerende party die emmeruitwissingsprogram as ’n slypfonds gebruik.”

“Terwyl die DA al jare lank ons kommer uitspreek oor emmeruitwissing in munisipaliteite, die wetgewer, COGHSTA, die DWS en die parlement, is daar steeds ‘n ernstige ontbreking van aanspreeklikheid.”

“Die DA sal die OG se kantoor versoek om ’n forensiese ondersoek na die program in die provinsie loods om vas te stel presies wat met die miljoene wat oor die jare vir emmertoilet-uitwissing in die provinsie bewillig is, gebeur het. Boonop het ons ook baie vrae met betrekking tot die Campbell-projek en ons wil weet waar die geld vandaan kom, wie die kontrakteur is, presies waar die toilette is wat uitgeroei gaan word en wie die begunstigdes is. Ons wil ook weet watter sanitasie-infrastruktuur in Campbell beskikbaar is en hoekom die koste per eenheid so buitensporig is. Ons sal dit nie onbetwis laat nie en, al is die wetgewer op reses, sal ons dringende vrae direk aan die Premier rig.”

*PERSVERKLARING

*DIE ADVERTENSIE IS DEUR DIE BETROKKE POLITIEKE PARTY BETAAL.

Lees ook: DA has 83% success rate from Land Reform Report