Blade Nzimande lê kriminele klag teen sakeman oor aantygings van korrupsie

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: ‘Ramaphosa moet Nxesi afdank en Godangwana, Nzimande ondersoek’ – Action SA

PRETORIA. – Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het ’n kriminele klag teen sakeman Mthunzi Mdwaba gebring na Mdwaba se bewerings van korrupsie.

Mdwaba het drie kabinetslede, Thulas Nxesi (minister van arbeid), Nzimande en Enoch Godongwana, minister van finansies, asook ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, beskuldig van korrupsie na hulle glo R500 miljoen omkoopgeld by hom geëis het. Mdwaba se maatskappy sou deel wees van ’n UIF-werkskeppingsprojek van R5 miljard, maar hy is ingelig die ooreenkoms is onwettig.

Die projek en betalings aan Mdwaba is opgeskort, waarna hy die ministers en Mbalula van korrupsie beskuldig het.

Nzimande het gister die saak teen Mdwaba by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria gemaak. Nzimande het gesê die bewerings is deel van ’n plan om hom, die ANC en die SACP sleg te laat lyk voor die verkiesings. Hy het ook gesê Mdwaba het ’n misdryf begaan deur nie die bedrog en korrupsie aan te meld nie.

Al die betrokke ministers en Mbalula het die aantygings ontken. Mbalula het ook ‘n saak van crimen injuria teen Mdwaba aangemeld.

Bronne: EWN, IOL, Jacaranda FM

Lees ook: ‘Ramaphosa moet Nxesi afdank en Godangwana, Nzimande ondersoek’ – Action SA