‘Samesmelting van N-K se entiteite verdoem weens gebrek aan kosteberekening’ – DA

Deel hierdie storie / Share this story

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap is besorgd dat die provinsiale regering voortgaan om die voorgenome samesmelting van provinsiale openbare entiteite verkeerd te bestuur. Dit gaan dit vir entiteite moeiliker maak om hul regulerende rol te vervul en om betekenisvol tot die provinsiale ekonomie by te dra.

Fawzia Rhoda, MPL het gesê: “Antwoorde op geskrewe vrae deur die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling bevestig dat daar geen kosteberekening was vir twee wetsontwerpe wat in Mei vanjaar in die staatskoerant gepubliseer is nie. Die twee wetsontwerpe gaan die raamwerk vir provinsiale openbare entiteite aansienlik wysig.”

“Die gebrek aan ‘n behoorlike kostebepaling is natuurlik ‘n struikelblok vir die sukses van entiteite, veral vir die mega-entiteit wat geskep sal word deur wysigings aan die wette wat die Noord-Kaapse ekonomiese ontwikkelingsraad en die toerismeraad tot stand bring. Die skep van die mega-entiteit behels meer as die blote samesmelting van die ekonomiese ontwikkelingsraad met die toerismeraad, want die wetsontwerp skep nuwe mandate wat nie voorheen deur een van die twee entiteite gedryf was nie. Die departement se eie vorderingsverslag beskryf hoe die nuwe entiteit verantwoordelik sal wees vir nuwe pligte wat die Noord-Kaapse konstruksiemaatskappy, die Noord-Kaapse mynboumaatskappy, die Boegoebaai-hawe en die De Aar-vervoerkern sal insluit. Nie die ekonomiese ontwikkelingsraad of die toerismeraad was voorheen vir konstruksie of mynbou of die bou van ‘n hawe verantwoordelik nie. Dit is gespesialiseerde kwessies wat spesialisvaardighede en hulpbronne vereis.”

“Terwyl die proses voortsloer, is ons ook besorg oor die regsimplikasies van besluite wat geneem word sonder ‘n behoorlike raad of ‘n hoof uitvoerende beampte.”

“Ons sal daarop aandring dat die departement voor die portefeuljekomitee oor finansies verskyn om te verduidelik watter werk gedoen is.”

“Met ‘n uitgebreide werkloosheidsyfer van 43%, kan die Noord-Kaap dit nie bekostig om enige geleentheid vir ekonomiese ontwikkeling en groei te verspil nie.”

*PERSVERKLARING

Lees ook: AfriForum lewer ‘polities ongerieflike feite’ oor grond en grondhervorming in voorlegging voor die parlement