Vermiste boer se liggaam gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Die boer wat Maandagoggend deur een van sy werknemers as vermis aangemeld is, se liggaam is gevind.

Die polisie in die Vrystaat het die liggaam van die 66-jarige Mike Pattinson van die Sterkfonteindam-omgewing in Harrismith in Qwaqwa gevind. 

Die werkneners het glo opgemerk dat Pattinson se hond beseer is, sy voertuig vermis is, en dat daar verskeie bloedkolle op die werf is toe hulle vir werk opgedaag het.

Volgens die VF Plus se leier in die Vrystaat, Jan van Niekerk, was daar goeie samewerking tussen die polisie en die boere in die omgewing, en kon hulle daarom vinnig Pattinson se liggaam vind.

Volgens Van Niekerk is minstens vyf verdagtes in verband met Pattinson se moord vasgetrek.

Pattinson was ook ‘n personeellid by die Harriston-skool in Harrismith. Die skool het op sy Facebook-blad geskryf Pattinson was baie geliefd sedert hy vanaf die skool se stigting in 1997 by die skool betrokke was.