Die Demokratiese Alliansie (DA) oefen druk uit op Sol Plaatje-munisipaliteit om dringend voort te gaan met die agterstallige Kimberley-waterafsluiting, vir herstelwerk aan groot lekkasies.
Verlede week het die stad weer nagtelike waterafsluitings ingestel. Daaropvolgende oorsiginspeksies wat gister deur myself en DA-raadslede Chris Whittaker, George Joseph en Christopher Phiri gedoen is, het die kritieke toestand van Sol Plaatje se waterinfrastruktuur ontbloot.
Ons het 13 groot varswaterlekke ontdek. Aangesien ons nie sekere gebiede kon inspekteer nie weens moerasagtige toestande en riete wat oorgroei is, is daar seker nog baie meer. Dit is behalwe die honderde medium tot klein lekke van drinkbare water regoor die stad.
Een van die lekkasies is van ‘n pypleiding by die Newton Reservoir self. Dit oorstroom al dertien jaar op Hoërskool Noord-Kaap se sportgeriewe en veroorsaak groot skade aan die skool se swembad, netbalbane, veld en skoolstruktuur.
Daar is oook nog ‘n lek buite die Riverton-pompstasie, by die Watersuiweringsaanleg. ‘n Waterpomp en sandsakke word gebruik om die gevolge van oorstromings van die pomphuis te versag.
Water het ook uit ‘n uitloper van die 600 mm-toevoerlyn na boere langs die N12 uitgestroom. Mere van vars water in die veld getuig van die groot volumes water wat vermors word.
Die 13 groot waterlekke wat ons ontdek het, is in skrille kontras met ‘n verslag wat verlede week deur Sol Plaatje verskaf is. Daarin word na slegs twee groot waterlekke verwys. Óf die munisipaliteit ignoreer doelbewus vir die kritieke toestand van die stad se waterinfrastruktuur, óf hulle het nie die kapasiteit om lekkasies te monitor nie.
Elf van die lekkasies wat ons raakgeloop het, vereis ‘n totale waterafsluiting om die stukkende pype te kan herstel. Sol Plaatje het vanjaar reeds die geskeduleerde afsluiting twee keer uitgestel weens ‘n kombinasie van swak beplanning en ‘n gebrek aan kommunikasie.
Inwoners voel nou die gevolge van die vertraagde herstelwerk, gegewe die behoefte aan nagtelike waterafsluitings. As herstelwerk nie baie gou plaasvind nie, kan inwoners ‘n ramp in die gesig staar deur ‘n ongeskeduleerde waterafsluiting.
Die munisipaliteit se versuim om sperdatums vir die wateropgradering en herstelprojek na te kom, is ook in stryd met vasgestelde toelaevoorwaardes en kan veroorsaak dat die munisipaliteit die R2 miljard-toekenning van die Waterdienste-infrastruktuurtoelaag (WSIG), of ten minste ‘n deel daarvan, waag.
Ek het die DA se bevindinge aan die munisipale bestuurder gerapporteer. Die DA sal ook Donderdag ons bevindings van die bykomende groot lekkasies aan die nutskomitee voorlê, aangesien ons versoek dat groot herstelwerk dringend geïmplementeer word.








*PERSVERKLARING
Lees ook: Man in hegtenis vir dagga naby Kimberley



