President Cyril Ramaphosa het Woensdagmiddag die gebaretaal-wetsontwerp tydens ‘n seremonie by die Uniegebou onderteken.
Dit bepaal dat Suid-Afrikaanse gebaretaal (SAGT) as ‘n amptelike taal erken word.
Die president sê die ondertekening gee uitdrukking aan die Handves van Regte in die Grondwet wat diskriminasie, in hierdie geval, teen mense met gestremdhede verbied.
Hy sê die erkenning van SAGT sal uitdagings aanspreek wat dowe mense in die gesig staar, soos ‘n gebrek aan toegang tot onderwys, sowel as ekonomiese en sosiale geleenthede.
“Mense met gehoorgestremdheid sal toegang hê tot meer dienste in ons land, hulle sal inligting en ’n magdom ander geleenthede kan hê wat tot dusver vir hulle baie moeilik was of vir hulle gesluit was. Amptelike erkenning is net die begin, baie meer moet nog gedoen word om hierdie taal te ondersteun en ons aan die regering se kant gaan seker maak dat dit behoorlik geïmplementeer word. Ons gaan seker maak dat ons die implementering daarvan monitor,” sê Ramaphosa.