Ma wat dogters glo vermoor ‘het geweet wat sy doen’

Deel hierdie storie / Share this story

Lauren Dickason, die ma wat daarvan verdink word dat sy haar drie dogters vermoor het, “het geweet wat sy doen”. So het die staat Maandag in die hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland aangevoer.

Die staat het gesê Dickason het op die aand van 16 September 2021 kabelbinders om haar tweejarige tweeling, Maya en Karla, en die sesjarige Liane se nekke vasgemaak en hulle verder met hul kombersies versmoor. Daarna het sy glo haar eie lewe probeer neem, berig Stuff.co.nz

Dickason het onskuldig gepleit en aangevoer sy was tydens die moorde geestelik ongesteld en dus ontoerekeningsvatbaar.

Die staat het erken dat sy aan depressie gelei het, maar aangevoer sy het tog geweet wat sy doen.

Stuff.co.nz berig verder die staatsaanklaer, Andrew McRae, het aangevoer Dickason het woede en ‘n wrok teenoor haar kinders gehad en dat sy glo boodskappe aan vriende gestuur het wat dit bewys.

Sy het glo ook internetsoektogte gedoen oor hoe om haar kinders te vermoor.

Die verhoor sal na verwagting ongeveer twee weke duur.

Dickason was die afgelope tyd in ‘n psigiatriese eenheid by die Hillmorton-hospitaal in Christchurch behandel.