Lees ook: Larry Nassar tien keer in Florida-tronk gesteek
Inwoners in die Jan Kempdorp-polisiëringsgebied word steeds uitgelewer aan misdadigers se genade terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versuim om sy vloot te herstel.
‘n Oorsiginspeksie aan die polisiestasie het ontbloot dat die enigste patrollievoertuig wat tans tot die polisie se beskikking is, ‘n sedan met stukkende remme is. Die ander sewentien voertuie wag op herstelwerk by die staatsgarage. Veertien van hulle is al meer as drie maande buite werking. Van die ses voertuie wat aan die speureenheid toegewys is, is slegs drie in ‘n werkende toestand.
Terwyl twee voertuie ‘n maand gelede uit die werkswinkel aan die stasie terugbesorg is, het een op pad terug na die stasie gebreek. Die ander een het gebreek toe dit op pad was na die eerste kriminele saak na herstelwerk gedoen is.
Al die voertuie het lesings van tussen 300 000 en 400 000 kilometers. Hulle is oud, onbetroubaar en moes al lankal vervang word. Hulle maak inwoners kwesbaar vir misdaad.
Die gemeenskapspolisiëringsforum het aangedui dat diefstal en geweldsmisdaad met 300% toegeneem het, veral in die Valspan- en Masakeng-gebiede. Dit is grootliks te wyte aan die onbeskikbaarheid van sigbare polisiëringsvoertuie om patrollies te doen, misdaadtonele by te woon en om misdadigers vas te trek.
Dit is nie die eerste keer dat die DA die kollig op Jan Kempdorp se stukkende polisievloot laat skyn nie of vir ingryping op plaaslike en provinsiale vlak hiervoor vra nie. Tog vererger die situasie steeds.
Dit ten spyte van altesaam 23 nuwe polisievoertuie wat in Desember verlede jaar deur die provinsiale kommissaris aan stasiebevelvoerders van regoor die Noord-Kaap oorhandig is, en verdere beloftes van voertuie wat nog moet kom. In werklikheid bly Jan Kempdorp-inwoners kwesbaar vir misdadigers wat moor, roof en verkrag in die vertroue dat die polisie nie in staat is om hulle met gebrekkige hulpbronne te vang nie.
Die DA in die Noord-Kaap duur voort met ons beroep op President Cyril Ramaphosa om Bheki Cele, minister van polisie, af te dank. Totdat SAPD voldoende toegerus is om misdaad te bekamp, het die SAPD geen vermoë om misdadigers te stuit nie.
*PERSVERKLARING



