Meisie (9) dood toe skroef haar deur ruit tref

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Negejarige meisie is dood toe ‘n motorboot se skroef deur die motor waarin sy ‘n passasier was, se voorruit gebreek en haar teen die kop getref het.

Die insittendes van die twee motors wat Woensdagmiddag in ‘n botsing naby Touwsrivier betrokke was, was lede van een gesin.

Volgens die polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, was die pa in die voorste voertuig wat ‘n boot gesleep het en die ma en die oorledene was in die voertuig direk agter hom.

Die voorste voertuig het by padwerke stilgehou waarna die agterste voertuig teen die boot vasgery het. Die kind is na ‘n hospitaal geneem, maar het aan haar wonde beswyk.

Die gesin is van Pretoria afkomstig en was glo na Kaapstad op pad. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.