‘n Boer van die Noord-Kaap is glo op 8 Junie geskiet.
Die polisie en lede van die gemeenskap op Askam het ‘n grootskaalse soektog geloods na die verdagte wat André du Toit (54) geskiet het.
Volgens lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het Du Toit gaan ondersoek instel nadat sy seun ‘n geluid by die vleiskamer gehoor het.
Hy is in die bors getref en hoewel hy daarin kon slaag om terug te skiet, is dit nie bekend of sy aanvaller getref is nie.
Du Toit se vrou, Cilla, het met hom na ‘n hospitaal op Upington gejaag waar hy tans in die waakeenheid aansterk.
Die aanval op Du Toit kom kort nadat daar by ‘n buurman ingebreek en ‘n 9 88mm-pistool gesteel is. Dit is die soveelste plaasaanval in ‘n kwessie van net langer as ‘n week.



