Dis byna ses maande sedert Louisa Coetzer se lewe onherroeplik verander het nadat haar twee pragtige blondekop dogters van haar af weggeruk is.
Janke (19) en haar sussie, Lize (16), is net buite Jan Kempdorp in ‘n kop-aan-kop-botsing oorlede.
En die afgelope paar maande was vir haar ‘n reis met ‘n gebroke hart.
Vandag druk die lewe bietjie harder, is die seer bietjie seerder en die trane vlakker, want dis Louisa se eerste Moedersdag sonder haar dogters.
Hier is ‘n hartroerende brief wat Louisa aan hulle geskryf het:
“Eens ‘n Mamma, altyd ‘n Mamma.
“My eerste Moedersdag sonder my geliefde dogters!
Om jul mamma te kon wees vir 19 en 16 jaar was absoluut die grootste grootste voorreg wat ek kon hê. Julle was die wonderlikste geskenk in my lewe – julle het my ‘n nuwe taal kom leer wat in geen boek geskrewe staan nie en ek’t elke woord gelove.
“Engele wat net ons s’n was. Ek leef en ek besef in my hart dat ek elke minuut van elke uur van elke dag dat ek so dankbaar was vir julle hier by my. En dat julle my hele wese kom vervolmaak het.
“Verewig sal ek elke oomblik van al ons mooi herinneringe in my hart koester en bly voortleef in my tyd hier sonder julle.
“Om jul stemme, die woord “Mamma” nie meer te hoor skreeu, maak my flenters elke dag, maar terselfdetyd kan ek nie help om die grootste eer te ervaar om jul mamma te kon wees nie. Daar gaan nie ‘n oomblik verby dat ek wens julle was steeds hier nie – julle vas te hou, julle te bewonder!
“Ek twyfel nie vir ‘n oomblik dat God jul so onbeskryflik liefhet en veral vandag jul styf teen sy bors druk en jul geliefd voel meer as ooit.
“Dankie dat jul my lewe as mamma hier op aarde so mooi kom verf het, my die edelste beroep kom gee het. Jul het my kom voed na liggaam en na siel solank jul hier was.
“Dankie dat ek jul kon aanspoor, julle bederf, blindelings verby al jul foute kon kyk en onbaatsugtig kon wees.
“Ons het soveel drome vir jul en saam jul gehad, maar God se droom oor jul was groter al is dit vir my as mens so onsettend vrek seer, gun ek jul die lekkerste plek – by die Hemel by Jesus se voete.
“Dankie Janke en Lize dat ek my kosbaarste geskenk ooit aan jul kon gee, my tyd en jul vlerke kon gee om die lewe te kon verower. My vlerke te kon knip een vir een vir jul om hoog te kon vlieg, so hoog!
“Was edel om jul mamma te kon wees!
“Steeds so bitterlik lief vir julle twee, my hele wese verlang.”
“Mamma Lou.”



