Inwoners van Worcester is geskok ná ’n beweerde bendeverkragting wat glo by een van dié dorp se bekendste skole plaasgevind het.
Die beweerde voorval, wat op 19 April op die skoolperseel plaasgevind het, het behoorlik skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.
Ná bewering is drie leerders teen hulle wil deur ’n ander groep leerders op die perseel aangehou en glo seksueel gemolesteer.
Kort ná die vermeende dade het die slagoffers daarin geslaag om te vlug.
Die voorval is onmiddellik gerapporteer en hul ouers is ook in kennis gestel. Die skoolhoof, wat ook kort ná die insident daarvan te hore gekom het, het nie gras onder sy voete laat groei nie en dadelik die polisie in kennis gestel.
Die leerders wat hulle aan die beweerde verkragting skuldig gemaak het, is ook onmiddellik geïdentifiseer en hulle ouers is gekontak. In hierdie stadium is die skool se beheerliggaam besig om dissiplinêr teen die betrokke leerders op te tree. Die leerders kry ook berading.
Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, sê die departement beskou dié aangeleentheid in ’n baie ernstige lig.
Merton het bevestig dat die voorval op 19 April by ’n betrokke skool op die dorp plaasgevind het. Volgens Merton is die voorval ook reeds by die polisie aangemeld.
Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 17-jarige leerder reeds in verband met die voorval in die plaaslike landdroshof verskyn het. Van Wyk sê die Worcester-FCS ondersoek die saak.
Weens die sensitiwiteit van die aangeleentheid en in ooreensteming met die wetgewing in verband met minderjarige kinders, is alle name weerhou om al die betrokke partye te beskerm.



