Volgens ‘n nuwe studie kan die eet van skyfies jou depressief maak.
Dít is bevind nadat meer as 140 000 persone in die VK ’n vraelys ingevul het, oor wat hulle in die vorige 24 uur geëet het.
Luidens Female First is die groep vir ongeveer 11 jaar lank gemonitor om te sien of hulle simptome van angs en depressie getoon het. Diegene wat ten minste een porsie gebraaide kos per dag geëet het, was 12 persent meer geneig om angs te hê as diegene wat dit nie in hul dieet ingesluit het nie.
Kenners aan die Zhejiang-universiteit in China vermoed dat akrielamied – die chemiese stof wat gevorm word wanneer aartappels by hoë temperature gebak en gebraai word – aan inflammasie in die brein gekoppel word.
Navorsers is van mening dat dieet gekoppel is aan die risiko om depressie en angs te ontwikkel. ‘n Westerse dieet van gebraaide of verwerkte voedsel, verfynde graan, suikerprodukte en bier word geassosieer met ‘n hoër risiko van depressie en angs.
“Gebraaide kosse is tipies ’n groot deel van die Westerse dieet en die verbruik van gebraaide kosse het wêreldwyd toegeneem, veral tydens die Covid-pandemie.”



