Olifantshoek SAPD-stasie benodig dringende hulpbronne

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: Soldaat skiet glo minister onder sy bewaking dood

Aangesien inwoners van Olifantshoek ‘n toename van inbrake by hul huise en besighede ervaar, doen die Demokratiese Alliansie (DA) ‘n beroep op beter ondersteuning en die toewysing van hulpbronne aan die plaaslike polisiestasie.

Ek het gedurende ’n oorsiginspeksie verlede week bevestig dat die toestand van polisiëring die verwaarloosde toestand van die polisiestasie weerspieël.

Die glasdeur by die ingang is sedert verlede jaar stukkend. Die kamer vir slagoffers benodig beddens en toiletware. Die ligte by die aanklagkantoor werk nie omdat die gloeilampe stukkend is. 

Die kragopwekker werk ook nie. Die stasie word in algehele duisternis gelaat tydens beurtkrag. Tydens beurtkrag kan die gemeenskap nie die polisiestasie kontak nie omdat die netwerk af is. Die stasie is veronderstel om 24 uur per dag operasioneel te wees, maar personeel- en voertuigtekorte maak dit onmoontlik vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om sy werk te doen en om die dorp sowel as die sowat 100 omliggende plase, veilig te hou.

Die stasie gebruik tans een polisievoertuig wat van die Kathu-stasie geleen word. Die twee speurvoertuie plus al vier patrollievoertuie is in vir herstelwerk. Sommige van hierdie voertuie is baie oud en sal net nog 12 maande hou.

Die aanhoudingsfasiliteit is nie in werking nie en moet opgeknap word. Dit sal addisionele aanstellings vereis om minstens agt polisiebeamptes per skof te kan hê. Daar is tans net tussen drie en vier polisiebeamptes per skof beskikbaar en personeellede wat gesterf of afgetree het, is steeds nie vervang nie. 

Die situasie in Olifantshoek is nie gepas om misdaad te bekamp en misdadigers agter tralies te plaas nie. Dit skep ook nie vertroue in die polisie om inwoners te beskerm of hulle in noodgevalle by te staan nie.

Die DA het ‘n klag by die stasiebevelvoerder gelê, wat ons ook na die provinsiale polisiekommissaris sal eskaleer. Sy moet bewus gemaak word van die werklike stand van polisiëring en moet dringend die toewysing van ekstra hulpbronne aan die Olifantshoek SAPD-stasie prioritiseer, om die groeiende vlaag van wetteloosheid in Gamagara-munisipaliteit stop te sit.

*PERSVERKLARING

Lees ook: Soldaat skiet glo minister onder sy bewaking dood