Lees ook: Doen aansoek om ’n DA-kandidaat vir die 2024-Nasionale en Provinsiale Verkiesings te wees!
Die Demokratiese Alliansie (DA) wil hê dat die premier, dr. Zamani Saul, die heraanstelling van dr. Dion Theys as die waarnemende hoof van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement moet verduidelik.
Die departement is al sedert Julie 2020 sonder ‘n permanente hoof. Oor die afgelope paar jaar het die DA deurgaans die kantoor van die premier uitgevra oor die uitgerekte vertraging met die aanstelling van ‘n permanente hoof. Verlede jaar is ons meegedeel dat ‘n advertensie in Junie geplaas is en dat die tydraamwerk vir die aanstelling aan die komitee verskaf sou word. Dit was egter nooit gedoen nie.
Op 24 Maart vanjaar is ons meegedeel dat ‘n aanstelling binne twee weke gemaak sou word. Ons is baie teleurgesteld dat, ten spyte van die verbintenis wat aan die wetgewer se portefeuljekomitee gemaak is, ‘n permanente hoof steeds nie aangestel is nie.
Ons is ook skepties oor die heraanstelling van dr Theys as die waarnemende hoof. Terwyl sommige aanklagte teen hom teruggetrek is en hy nie skuldig bevind is nie, is hy twee keer binne ‘n tydperk van ses maande in hegtenis geneem tydens sy vorige ampstermyn as waarnemende hoof. Die een saak hou verband met ‘n 2014-huurooreenkoms van R96 miljoen vir die verblyf van verpleegstudente. Die ander saak hou verband met verkrygingsonreëlmatighede in 2020 ten opsigte van ‘n tender vir persoonlike beskermende toerusting ter waarde van R43 miljoen. Wat die PPE-saak betref, is die aanklagte teen Theys en die hoof finansiële beampte, Daniel Gaborone, in Desember verlede jaar voorlopig teruggetrek.
Theys het ‘n donker wolk wat oor sy kop hang. Gegewe die omvang van korrupsie binne die departement van gesondheid, wek sy aanstelling ook nie vertroue in die regering se vermoë om die gesondheidsdepartement op te ruim nie.
Die DA is ook agterdogtig oor die tydsberekening van sy heraanstelling as waarnemende hoof só vroeg nadat sy skorsing teruggetrek is. Dit is asof die Premier doelbewus uitgehou het dat hy moet terugkeer, en weer hierdie pos beklee.
Die DA sal weer vrae aan Saul stel ten opsigte oor die posisie van waarnemende hoof. Die departement van gesondheid is besig om agteruit te gaan. Selfs die parlementêre oorsigkomitee wat die provinsie onlangs besoek het, het ernstige kommer oor die gesondheidsdepartement in die Noord-Kaap uitgespreek, waarvan die Premier deeglik bewus is. Hierdie departement benodig ‘n permanente hoof met onbetwisbare integriteit en die bewese vermoë om gesondheid uit sy verswakte toestand te trek. Dit het nie ‘n verdere twyfelagtige waarnemende aanstelling nodig om verdere regressie te fasiliteer nie.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Doen aansoek om ’n DA-kandidaat vir die 2024-Nasionale en Provinsiale Verkiesings te wees!



