Martin Ooshuizen, landgoedbestuurder by Wildeklawer, sê die onlangse vloede het weer gewys watter fantastiese span mense Wildeklawer het. Dié span het dag en nag gewerk om die plaas aan die gang te hou.
Oosthuizen sê die Vaalrivier by Wildeklawer self het met 4000 kubieke meter per sekonde gestyg. “Dis verskriklik hoog. Dit beteken ons moes baie hard werk om die pompe uit die water te hou.”
Die uitdaging, sê hy, is die plaas self het nie reën gekry nie. “Dit het in Gauteng gereën, so die gewasse op die plaas het steeds water nodig. Dus moes die ouens die heeltyd die pompe skuif. Wat dit nog meer uitdagend maak, is beurt krag. Dis ook redelik gevaarlik, want soos die water styg, begin dit aan kragbokse raak en van die elektriese brekers het begin water kry.”

Hy sê beurtkrag vereis dat daar spanne dag en nag moet werk. “As jy Saterdagmiddag 16:00 die pompe afsit, moet dit byvoorbeeld weer 12:00 die volgende dag aangesit word. Met ‘n vloed moet die pompe heeltyd uitgetrek word en gesak word.”
By De Bron, deel van Wildeklawer aan die Oranjerivier, het die water teen 1800 kubieke meter per sekonde gestyg. “Dis baie minder, maar dit beteken dieselfde. Jy moet steeds die pompe skuif en dis harde werk. Waar mense deur beurtkrag slaap, byvoorbeeld van 02:00 tot 04:00, moet ons mense die pype gaan toedraai en weer oopdraai.”
Wildeklawer se lande het ‘n paar gewasse verloor as gevolg van oorstromings. “Daar is so 30 hektaar skade. Eintlik het almal baie goed en hard saamgewerk. Ek dink ons spanne het die vloed goed hanteer. Daar sal moontlik nog vloede wees, want die damme is propvol. Saam metbeurt krag, bly dit ‘n uitdaging, maar ons is trots en dankbaar vir ons span wat alles ingesit het om ons deur dié tyd te kry.”
Wildeklawer se produksie kon voortgaan soos normaal, deur aan verskaffers betyds en professioneel produkte te lewer. Alles te danke aan goeie spanwerk, selfs deur uitdagende tye.
Hier is nog foto’s van die vloede op Wildeklawer:






