’n Leeu is na bewering vanoggend omstreeks 02:00 op die R511 tussen Noord-Wes en Gauteng, naby die Motozi Lodge en Vusalela Day Spa gewaar.
Arthur Crewe, operasionele bestuurder van SRU hoë-risiko eenheid, het bevestig die foto wat gesirkuleer word, is inderdaad van ’n leeu. Crewe sê hulle is besig om na die leeu te soek. “Ons het die foto gesien wat vanoggend deur ’n sekuriteitsbeampte geneem is, asook het nog ’n persoon bevestig hulle het die leeu gesien. Dis ’n wyfie wat in ’n baie goeie toestand is, wat daarop aandui dat dit ’n leeu in bewaring is.”
Crewe sê aan FiND iT hulle is tans besig om na spore te soek deur hommeltuie en spanne op die grond. “Die area is baie bebos en klipperig. Dis moeilik om iets te kry en ook het daar al omtrent 14 na 16 ure verloop sedert die leeu gewaar is. Ons soek-en-reddingspanne is opgelei om sulke werk te doen. Ons wil nie die leeu seermaak of doodmaak nie. Ons wil die leeu veilig terugbesorg na waar dit vandaan kom.”
Tot dusver kon geen spoor van die leeu gevind word nie, maar hy sê hulle vermoed die leeu is op die grens tussen Noord-Wes en Gauteng. “Ons het reeds bevestiging ontvang die leeu het nie uit ’n bewaringseenheid in Noord-Wes ontsnap nie. Dus moet dit van Gauteng af kom, maar ons wag nog vir meer inligting.”
Hy sê hulle sal teen vanmiddag besluit of hulle ’n helikopter en honde moet gebruik om verder na die leeu te soek, sou hulle niks vind nie.
“Die dier kan jou verras, maar 99% van die tyd sal die dier nie iemand aanval nie. As dit beweging en rumoer hoor, sal dit wegbeweeg. Meeste van die tyd gaan so ’n dier terug na waar hulle gevoer word. So as ons kan vasstel waar die leeu vandaan kom, sal dit ons taak makliker maak.”
FiND iT hou jou op hoogte.



