Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng is hartseer oor die nuus van 'n jong polisiebeampte wat vroeër die week wreed in 'n skietery in Westbury vermoor is. Die Westbury-, Eldoradopark-, Riverlea- en Reigerpark-gemeenskappe is deur bendelede gyselaar gehou. Daar is 'n voortdurende toename in wrede moorde, met mense wat daagliks geskiet en doodgemaak word. Crezane Bosch, die DA se Gauteng-skadu MPL vir gemeenskapsveiligheid, sê die DA het al hierdie gemeenskappe en die betrokke polisiestasies besoek. "Tydens hierdie besoeke het ons 'n baie dieper sosio-ekonomiese probleem gevind wat tot hierdie sterftes gelei het. "Die DA het verskeie vrae ingedien, en ná maande se toesig en samesprekings in die gemeenskapsveiligheid-toesigkomitee, het ons uiteindelik daarin geslaag om 'n mosie goed te keur om 'n komitee van ondersoek na die moorde en die toename in gangsterism in die provinsie te stig. "Die DA betuig sy medelye met die familie van die jong polisiebeampte wat oorlede is as gevolg van nog 'n skietery. "Ek sal aan die voorsitter van die gemeenskapsveiligheidstoesigkomitee skryf om die mees onlangse wrede moorde onder sy aandag te bring en 'n formele tydlyn aan te vra oor die totstandkoming van die komitee van ondersoek en die werk wat dit moet doen. Hierdie ondersoek moet geprioritiseer word. 'n Einde moet gebring word aan alle moorde en bendelede in hierdie provinsie." Bosch sê inwoners in die gemeenskappe wat die swaarste deur bendelede getref is, verdien om veilig te voel. "Ons sal voortgaan om te beywer vir meer hulpbronne wat aan ons polisiestasies toegeken word om die gebrek aan misdaadvoorkoming aan te spreek en misdaadintelligensie te verbeter sodat bendelede vervolg kan word." LEES OOK: Krokodil bring liggaam van verdrinkte 4-jarige terug aan redders in Indonesië



