Huisarres vir man wat minderjarige verkrag

Deel hierdie storie / Share this story

’n Man van Calitzdorp wat aan instemmende seks (statutêre verkragting) met ‘n minderjarige skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar in huisarres geplaas.

Die 26 jarige Isaac Lukas het in sy pleitverduideliking erken dat hy in November 2020 verskeie kere met toestemming geslagsgemeenskap met die minderjarige gehad het.

Volgens hom was hy en die 15–jarige klaer in ‘n verhouding en was hy bewus van haar ouderdom. Hulle het mekaar gereeld by ‘n plek bekend as “Kry Mekaar” ontmoet en daar omgang gehad.

Sy pleitverduideliking is deur die staat aanvaar en streekslanddros Daniel Boks het hom tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. 

Die landdros het beklemtoon dat dit teen die wet is vir enige persoon om geslagsgemeenskap met ‘n minderjarige te hê, al is dit ook met toestemming.

Lukas is ook tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat 24 uur per dag in huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, bepaal.

Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol.
Die hof het gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word terwyl hy ook onbevoeg verklaar is om ‘n vuurwapen te besit.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.

facebook sharing button
twitter sharing button
linkedin sharing button
pinterest sharing button
whatsapp sharing button
sharethis sharing button