Ma vermoor glo driejarige en 11 maande oue baba

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Ma is in hegtenis geneem nadat sy glo haar twee kinders vermoor het.

Die driejarige Daishawn en 11 maande oue Octavius is verskeie kere in die nek en bolyf met ‘n mes gesteek voordat hulle in ‘n bad weggesteek is.

Dimone Fleming saam met haar oudste seun, Daishawn, en die pa, Dwane Fleming.
Fotokrediet: DailyMail.

Die gru-voorval het Saterdag omstreeks 19:20 plaasgevind by ‘n woonstel op die derde verdieping in ‘n gesinskuiling naby Mount Hope, New York, VSA. Nooddienste is na die toneel ontbied en het die jong kinders dood aangetref.

Getuies wat in die gebou woon, het aan DailyMail.com gesê hulle het gesien hoe Dimone Fleming haar kop vashou en skree: ‘Wat het ek gedoen? Wat het ek gedoen?’ in die gang net oomblikke voor die polisie die eerste keer opgedaag het.

Die kinders se pa, Dwane Fleming, wat sy lewelose kinders in die met water gevulde bad ontdek het, was die vorige dag in ‘n rusie met die ma betrokke. Hy het ‘n dag tevore die huis verlaat en oornag in sy motor gebly.

Beamptes is aanvanklik eers na die woonstelblok gestuur nadat hulle om 19:20 ‘n oproep ontvang het van iemand wat gekla het oor ‘n vrou wat “ontoepaslik” optree.

Met hul aankoms, het die polisie gesê, het hulle ‘n naakte vrou in die kombuis gevind wat besig was om voorwerpe aan die brand te steek. Die vrou is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir evaluering.

Die beamptes was nie in daardie stadium bewus van die kinders wat in die bad versteek was nie.

Minute nadat die beamptes weg is, het die seuns se pa die twee kinders in die bad ontdek. Die beamptes is ‘n tweede keer omstreeks 19:55 teruggeroep.

Voor hul aankoms het bure die pa gehelp om die seuns uit die bad, wat met water gevul en met ‘n laken bedek was, te haal. Terwyl hulle vir die ambulans gewag het, het die pa mond-tot-mond asemhaling op hulle toegepas.

Hulle is na ‘n hospitaal gehaas, maar by aankoms dood verklaar.

Die 22-jarige ma is omstreeks 19:50, ‘n halfuur nadat die kinders deur die pa ontdek is, in hegtenis geneem.

‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om te bepaal hoe die kinders dood is.

Die ma, wat nog nie as ‘n amptelike verdagte verklaar is nie, bly in aanhouding as ‘n persoon van belang in die saak. Geen klagte is nog aanhangig gemaak nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel