Reeds meer as 110 000 handtekeninge om pitbulls as troeteldiere te verbied

Deel hierdie storie / Share this story

Na gereelde wreedaardige aanvalle op onskuldige mense, insluitend jong kinders, het die Sizwe Kupelo-stigting gevra vir die onmiddellike verbod op pitbulls.

Die Sizwe Kupelo-stigting het die petisie aan Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Mondli Gungubele, minister in die presidensie, dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid en Bheki Cele, minister van polisie, gerig.

Daar word versoek dat ’n verbod ingestel word op pitbull-honde wat as troeteldiere aangehou word.

Daar was reeds teen Woensdagmiddag 112 000 mense wat die petisie ondersteun.

Die petisie om pitbulls in Suid-Afrika te verbied, volg op ander lande soos onder andere Rusland, Finland, Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Portugal, dele van Duitsland, dele van China, dele van Brasilië en dele van Australië, óf die aanhou van die honde verbied het óf beperkings op eienaarskap van die ras of die invoer daarvan gestel het.

Die stigter en beskermheer van die stigting, Sizwe Kupelo, het ‘n beroep op die SA-regering gedoen om hierdie lande se voorbeeld te volg.

“Ons kan nie aanhou om jong mense soos Storm Nuku te verloor aan hierdie bose honde wat keer op keer gewys het dat hulle nie as troeteldiere aangehou moet word nie. Mag jong Storm Nuku in perfekte vrede rus.

“Die verweer deur pitbull-liefhebbers dat dit is hoe jy die hond grootmaak, hou nie water nie. Soveel mense, insluitend joggies, is deur pitbulls aangeval en doodgemaak.

“Dit is tyd dat die Suid-Afrikaanse regering beslissende stappe neem en ‘n algehele verbod op die eienaarskap van putbulls as huisdiere instel. So ‘n stap sal verdere aanvalle en onnodige sterftes voorkom. Ons kan nie aanhou om boodskappe van meegevoel uit te stuur vir iets wat maklik voorkom kan word nie.

“Ons doen ‘n beroep op ander diereliefhebbers en organisasies om soortgelyke oproepe te maak om meer druk op die regering te plaas om hierdie bose diere binnekort te verbied,” lui die petisie.