Die Jacobsdal Inn is splinternuut oorgedoen, onder nuwe eienaarskap en nou beskikbaar vir besprekings!
Lohan en Anja Faber, tesame met Banie en Sareen Faber, die nuwe eienaars, sê dié hotel is gerieflik geleë tussen Bloemfontein in die Vrystaat en Kimberley in die Noord-Kaap. “Kom ervaar die stadige lewe, natuurlike skoonheid, oop landerye en ononderbroke lug, in die hotel met tydlose mode.”
Me-Jaune Jacobs, van Me-Jaune Interiors, sê hy het die plaasomgewing gebruik as inspirasie vir die binnekant van die hotel. “Die inspirasie kom vanaf ‘n skildery wat oral in die hotel deurgetrek het. As voorbeeld die kaktus-foto’s in die kamers en badkamers. Ons het ook goue krane gebruik om die historiese aspek van die hotel te behou.” Me-Jaune gebruik verskaffers van Stellenbosch. “Ons kry ons matte by Hertex, Perrins maak al jare vir ons meubels en Woodbender het fantastiese kwaliteit stoele.” Die dorp Jacobsdal is in die 1800’s as ‘n plaas gevestig en is nou ‘n boerdery-gemeenskap, daarom sluit die tradisionele kroegarea, wat lyk asof dit al 100 jaar daar is, by dié tema aan. “Die blad van die kroeg is Ceasar Stone. Ons gebruik Ceasar Stone, want marmer kan vinnig vlek van wyn.”
Me-Jaune sê die doel van al hulle projekte is om te fokus op tydlose mode. “Vir Jacobsdal Inn het ons vir ‘n baie moderne, tog klassieke, gevoel gegaan. Elke kamer lyk so bietjie anders, daarom het ons elke kamer met sy eie respek hanteer. Die lap op die meubels verskil ensovoorts. Elke meubelstuk in die hotel is handgemaak en noukeurig gekies vir presies waar dit moet staan.
“Ons is baie opgewonde om te sien hoe Suid-Afrikaners en oorsese besoekers hulleself daar gaan geniet.”
Die Jacobsdal Inn beskik oor 10 kamers.
Kamer 1:
Slaap vier. Familiekamer met ‘n “queen” bed en twee enkelbeddens.
Kamer 2-10:
“Queen”bed-kamers
Kostes:
Enkelpersoon: R1200 per nag, ontbyt ingesluit
Paartjie: R1500 per nag, ontbyt ingesluit
Familiekamer: R2000 per nag, ontbyt ingesluit



