Geen alkohol by Wêreldbeker-sokker

Deel hierdie storie / Share this story

Net twee dae voor die Wêreldbeker-toernooi in Qatar afskop, het sokker se wêreldbeheerliggaam FIFA bevestig geen alkohol sal by die agt stadions verkoop word tydens die toernooi se 64 wedstryde nie.

“Na samesprekings tussen gasheerlandowerhede en FIFA is ‘n besluit geneem om die verkoop van alkoholiese drankies op die FIFA-aanhangerfees, ander aanhangerbestemmings en gelisensieerde plekke te fokus, en verkooppunte van bier van Qatar se FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi 2022-stadionomtrek te verwyder,” het die FIFA-verklaring gesê.

Dié Moslemland word as baie konserwatief beskou en reguleer alkoholverkope en -gebruik streng.

In September het Qatar gesê ondersteuners met kaartjies sal toegelaat word om alkoholiese bier te koop by Wêreldbeker-sokkerwedstryde drie uur voor die afskop begin en vir een uur ná die eindfluitjie geblaas het, maar nie tydens die wedstryd nie.

Die verklaring sê verder dat gasheerlandowerhede en FIFA sal voortgaan om te verseker dat die stadions en omliggende gebiede ’n genotvolle, respekvolle en aangename ervaring vir alle ondersteuners bied.

Terwyl sommige ondersteuners dalk bly is dat die stadions alkoholvry is, is ander verward en gefrustreerd.

Budweiser sou bier binne die kaartjie-omtrek rondom elk van die agt stadions voor en na elke wedstryd verkoop. Die bierhandelsmerk, wat een van FIFA se vennote is, het getwiet: “Wel, dit is ongemaklik,” hoewel die sosialemediaplasing vinnig uitgevee is.

Budweiser word besit deur die wêreld se grootste brouer Anheuser-Busch InBev. Die maatskappy betaal sowat $75 miljoen vir sy borgskapooreenkoms met FIFA, volgens die New York Times.

Die Football Supporters’ Association (FSA), die nasionale verteenwoordigende liggaam vir sokkeraanhangers in Engeland en Wallis, het die besluit oor bierverkope veroordeel.

In ‘n verklaring wat Vrydag vrygestel is, het die FSA gesê: “Sommige ondersteuners hou van ‘n bier by die wedstryd, en sommige nie, maar die eintlike probleem is die laaste minuut U-draai wat spreek van ‘n groter probleem – die totale gebrek aan kommunikasie en duidelikheid van die reëlingskomitee teenoor die ondersteuners.

“As hulle so maklik hulle keuses kan verander, sonder enige verduideliking, sal ondersteuners kommer hê oor of hulle ander beloftes sal nakom wat verband hou met verblyf, vervoer of kulturele kwessies.”

Aanhangers sal nie die enigstes wees wat teleurgesteld is met die ter elfder ure se U-draai nie.

Ben Peppi, hoof van sportdienste by JMW Solicitors, sê die stap is “reusagtig skadelik” vir FIFA se handelsmerk.

“Handelsmerke sal nou baie versigtig rondom FIFA trap vir toekomstige toernooie,” het hy aan CNN Sport gesê.

“As hulle twee dae voor die grootste wêreldsportgeleentheid wat hulle aanbied na ‘n handelsmerk kan draai en sê: ‘Jy kan dit nie doen nie en jy kan dat nie doen nie’ en daardie kontrak breek, wat is volgende?”

Die 2022-Qatar Wêreldbeker-sokkertoernooi duur van 20 November tot 18 Desember.