Die legendariese akteur, Tobie Cronjé, vier vandag sy 74ste verjaarsdag.
Hy het drama aan die Universiteit van Pretoria studeer. Daarna het hy vir ‘n motorversekeringmaatskappy gewerk en musieklesse gegee.
Cronjé is veral bekend vir sy spel in klugte soos My vrou se man se vrou en My vrou se man se lyk se tas, en sy jaarlikse vertolkings van “dames” in Janice Honeyman se pantomimes vir die Nelson Mandela-teater in Johannesburg.
Hy is egter ook ’n sterk dramatiese speler, soos hy bewyshet in die titelrol van Chris Barnard se Man met vakansie en in ander rolle, onder meer in Die rebellie van Lafras Verwey en I Love My Wife.
Hy maak sy debuut in die rolprent Die sersant en die Tiger Moth. Ander humoristiese flieks, soos Babbelkous en Bruidegom (1974) en Kootjie Emmer (1977), het sy gewildheid verder laat toeneem.
Cronjé het reeds in die beginjare van plaaslike televisie ’n huishoudelike naam geword, as Willem in ’n gelyknamige komiese speurreeks. Daarna het hy in talle TV-produksies, soos Binnelanders en Onder draai die duiwel rond verskyn.



