Duitse toeris naby Witrivier doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie op Masoyi ondersoek ‘n voorval waartydens ‘n toeris Maandag omstreeks 16:30 by Numbiweg naby Witrivier doodgeskiet is.

Volgens die polisieverklaring was vier toeriste van Duitsland in ‘n Hyundai H1 op Numbiweg op pad na die Numbi-hek by Mdluli Safari-lodge. Hulle is deur drie gewapende mans in ‘n VW Caddy voorgekeer.

Die mans het glo die toeriste opdrag gegee om die deure van hul voertuig oop te maak, maar toe die bestuurder die deure sluit, het een van die mans hom glo koelbloedig deur die venster in die bolyf geskiet en hom noodlottig gewond.

Die slagoffers se voertuig het vir sowat 100 meter in trurat gery het voordat dit in die muur van Heroes Academy vasgery het.

Die aanvallers het glo in hul voertuig weggejaag sonder om iets van die toeriste te neem. Die polisie by Masoyi sowel as nooddienste is van die voorval in kennis gestel.

‘n Moordsaak is geopen en ‘n soektog na die verdagtes is onmiddellik begin.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die oortreders vas te trek om onmiddellik die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel of inligting via die MySAPS-toepassing te stuur.

Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het die gruweldaad heftig veroordeel.

“Dit is regtig wreed en onnodig gegewe die ekonomiese uitdagings wat ons land in die gesig staar.

“As ‘n mens toeriste het, beteken dit dat die toerismesektor bevoordeel word op ‘n manier wat weer ‘n hupstoot gee aan ons sukkelende ekonomie.

“Ons doen ‘n beroep op ons goeie burgers wat dalk iets gesien of gehoor het van hierdie misdadigers of die VW Caddy waarmee hulle gery het, om na vore te kom en ons belowe om vinnig op te tree sodat hulle voor die gereg gebring word,” het Manamela gesê.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel