“Ek het gedink my kind is dood”- ma vertel van wonderwerk

Deel hierdie storie / Share this story

“My kind is dood.” Dit was Danika van der Berg se woorde aan haarself nadat haar dogtertjie, Ayvah-Lee, aan ‘n lekker verstik het.

Woorde wat ‘n ma nooit wil hoor nie. Woorde wat ‘n ma nooit sal kan verwerk as sy dit vir haarself moet sê of die realiteit daarvan insien nie.

Danika wil graag haar wonderwerk-storie deel – nie om mense van enigiets bewus te maak soos mense gewoonlik doen nie, en ook nie om vir mense te sê hoe vinnig ongelukke gebeur nie, “want dit is al genoeg gesê en ons almal besef dit.”

“Ek voel net in vandag se tyd word daar te min oor wonderwerke gepraat en as daar iemand is wat enigsins twyfel in God se goedheid, lees asseblief my verhaal,” sê Danika.

Danika en haar dogtertjie, in daardie stadium ‘n jaar en ses maande oud, was in Clearwater-inkopiesentrum.

Ayvah-Lee het in haar fietsie, wat Danika gestoot het gesit, besig om ‘n lekker te eet.

“Toe ek weer sien, maak haar handjie snaaks en haar koppie trek skeef – die karretjie waarin ek haar gestoot het, het verhoed dat ek haar ten volle kon sien.

“Ek het dadelik gestop en gekyk wat gaan aan. My kind was blou en besig om te verstik. Sy het ook ‘n bietjie opgegooi soos haar liggaam die lekker probeer uitkry het.”

Danika vertel sy het haar kind uit die karretjie geruk, haar vorentoe gedruk en haar rug gevryf dat sy kon opgooi.

“Voor ek myself kon kry, het ek my vinger in haar keel gedruk om die lekker te probeer uithaal, maar ek kon nils voel nie. Ek het haar weer omgedraai en op haar ruggie geklap.”

Op daardie oomblik het ‘n man verbygestap en Danika gevra of sy hulp nodig het. Sy het haar kind in sy arms gedruk en gesê “asseblief.”

Ayvah-Lee het net blouer en blouer geraak en mense het van oral gekom en probeer help.

Teen dié tyd was sy nie net meer blou nie, maar ook pap.

Danika vertel dit het vir haar gevoel soos jare wat verbygaan. Sy sukkel nou nog om te glo wat sy daardie dag beleef het.

“Hulle het my lewelose, potblou tweeponiestert-dogtertjie op die vloer neergelê en vier mense het begin KPR toepas en mond-tot-mond-asemhaling doen, maar dit het nie gehelp nie. Haar oë het omgedop en ek het gedink sy is dood.”

“My kind is dood, het ek vir myself gesê. Een van die vrouens het rustig gevra of daar iets om haar mee toe te gooi en hoe ver is die ambulans.

My baba, my klein lyfie lê potblou en leweloos op die grond. Ek kon die moedeloosheid sien toe almal tot bedaring kom, want sy het dit nie gemaak.

“Die volgende oomblik val almal neer op hulle kniee en bid – dis al wat ons kon doen – en ek hoor hoe iemand skree sy haal asem!

Hoewel die dankbaaarheid wat Danika beleef het nooit beskryf kan word nie, het sy haarself voorberei dat haar dogtertjie breinskade of iets gaan oorhou omdat sy ‘n tyd sonder suurstof was.


“Ek het net daar en dan besluit dit sal nie so wees nie en ek sak inmekaar en bid saam – soebat en smeek ons lewendige God vir sy genade en sy herstel en genesing om deur die lyfie te gaan,” vertel Danika.

Ayvah-Lee het glad nie reageer nie en kon ook nie beweeg of haar oë oopmaak nie.

“Vrees het heeltyd vir my gesê sy is breindood. Sy het net so ‘n huil-moan geluid gemaak totdat die ambulans opgedaag het.

“Ek onthou ek het langs haar gaan lê en net begin bid vir die genesing van dit wat sou skade kry, of dalk reeds het.
Ayvah-Lee het probeer om haar oë oop te maak, maar sy kon nie.

“Die ambulans het gekom en ons is hospitaal toe. Ayvah-Lee het in die ambulans begin beweeg en haar oë meer begin oopmaak. Ek onthou haar pupille was ontsettend groot en sy het net so na die hoek gekyk.

“Ek het haar net teen my vasgedruk en bly sê sy gaan ok wees,” vertel Danika.

By die hospitaal het hulle dadelik X-strale en ander toetse gedoen en Danika het nie geweet wat om te verwag nie.

“Na al die toetse gedoen is, het die dokter ons kom inlig dat ons lyfie niks makeer nie!

“Geen skade – geen niks. Ons kon huis toe gaan en die volgende dag was sy weer haar ou self – haar ou slim self wat gesels en speel en alles doen.

“Dit het my verstand te bowe gegaan. Soveel wonderweke in een dag!

“Nie net vir die gebeurtenis self nie, maar om te sien hoe ‘n inkopiesentrum vol mense neersak op hulle knieë en uitroep na ons Vader, was klaar iets te beleef.
“Hoe mammas my gehelp het – my vasgehou het, hulle oor my kind ontferm het terwyl ek in skok was en nie lekker besef het wat aangaan nie. Hoe hulle my bemoedig het en vir my kind hulle harte uit gebid het!

“Dit alles is net ‘n wonderwerk.”

Danika sê sal nooit haar dankbaarheid genoeg kan betoon nie.
“As hier iemand is wat dié lees wat dalk iemand ken wat daarvan gepraat het wat op een of ander manier betrokke was – asseblie,f dra my dankbaarheid oor.

As hier enige mense hierdie lees wat deel was – wat saam gebid het – wat die ambulans gebel het – wat op een of ander manier gehelp het, wil ek net innig uit my hart dankie sê.”

Foto’s: Verskaf.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel