Vrou skiet glo kêrel oor kwitansie vir kondome

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens ‘n verklaring deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het ‘n vroulike polisiebeampte haar kêrel doodgeskiet nadat sy ‘n kwitansie vir kondome in sy broeksak gekry het.

Die beskuldigde het gister in die hof verskyn vir die beweerde moord op haar kêrel.

Die voorval het Sondag, 18 September 2022, in Woodlands plaasgevind. 

Die vrou, wat by die Durban-hawe se polisiestasie in KwaZulu-Natal gestasioneer is, se borgtog is op R3 000 vasgestel. Die saak word verder ondersoek.

Luidens die woordvoerder van Opod, Lizzy Suping, word beweer die beampte het ’n onderonsie met haar lewensmaat gehad nadat sy ’n kwitansie vir kondome in sy broeksak gekry het.

“Die onderonsie het gelei tot die noodlottige skietery op die slagoffer.”

Nadat die vrou na bewering die misdaad met ‘n staatspistool gepleeg het, het sy haarself aan die polisie oorgegee.

Die Opod-ondersoek duur voort en die direktoraat sal meer inligting bekendmaak sodra die ondersoek voltooi is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel