Opiniestuk: Christelle du Plessis – Hoeveel waardering het ons vir kunstenaars?

Deel hierdie storie / Share this story

Dis 1984.

Jy en jou beste pel loop deur die hekke van ’n oorvol kuierplek, op pad om na julle gunsteling band te kyk. In jou sak, ’n advertensie van die aand, uitgeknip uit ’n gewilde koerant.

Terwyl julle ’n filosofiese gesprek aanknoop tussen ’n duisend ander aanhangers, staan daar ’n vrou regs van julle, met trane van blydskap en links van julle – iemand wat woord-vir-woord  kliphard saamsing. Tydens die vertoning word daar van voor tot agter gejubel en gejuig. Die ouens op die verhoog glimlag van oor tot oor, trots op hoe gelukkig hulle die mense daar onder maak.

Die vlamme van duisende lighters in die lug, geen selfoonliggies in sig. Alles is tog net lekker.

Fast forward en welkom in 2022.

Voor in die koor is jy en jou pel. Julle kaartjies is gekoop vir die fees van die jaar. Danksy sosiale media het jy sommer reeds besluit wie nie jou goedkeuring gaan wegdra nie. Die lys van kunstenaars is lank, hoe dan anders as om daar te wil wees? Tussen gesprekke oor die nuutste vape en hoeveel volgelinge julle op Instagram het, stap die kunstenaars op. Die helfte van die plek kan skaars regop staan en die ander helfte kon nie gepla gewees het oor vier uit die vyf vertonings nie. Jy wil sien wat jy van hou, die res is ’n bysaak. Soos ’n ongenooide maagkramp, begin daar ’n geboo en geveg. Ernstig oor hulle passie, hou die kunstenaars daar bo aan met speel. Tot op die einde bly hulle met ’n glimlag staan en bedank almal vir hul bywoning. Af met die trappe en terug in die bus, môre weer werk toe om jou snytjie brood te kan smeer.

Wat is my punt? Behalwe vir die feit dat dit nie meer 1984 is nie, het die vlak van waardering vir ons kunstenaars drasties verlaag. Die opskrifte oor kunstenaars wat gekruisig word, raak al hoe meer. In ’n tyd soos vandag, waar dit reeds moeilik na onmoontlik is om ’n lewe te maak in die vermaakliheidsbedryf, vergeet al hoe meer mense dat die ou daar bo, bitter hard gewerk het om daar te kom. Wat en hoe hy sing, skree of dans is dalk nie vir elke ou ’n plesierige ervaring nie, maar vir hom is dit sy passie, sy werk. Liters en liters sweet gaan in daai paar minute van optree in, dan praat ons nie van wat dit hulle kos om daar te kan staan nie. Tog het ons, die skare, die byl in die hand, reg om ’n droom middeldeur te kap. Hoekom? Want die persoon daar bo is mos net nog ’n ou.

As verloofde van ’n kunstenaar, het ek gou besef dat dit soms moeiliker is vir ’n kunstenaar om homself te sleep tot op die verhoog om “sy mense” te vermaak, as wat dit is vir die normale mens is om op te staan vir ’n 9 – 5 werk. Vir die mense moet hy goed lyk, selfversekerd wees en alles seepglad laat verloop. As hy vals sing, soek ons ons geld terug. As hy nie genoeg spring nie, noem ons hom oud en oor die muur. As hy te sag is, skree ons bo-oor hom. As hy vloek, dreig ons met die kerk en as hy te gemaklik is met wie hy is, kyk ons op hom neer.

En dit stop nie daar nie. Na dit duidelik gemaak is dat hy nie die gunsteling was nie, hardloop ons soos ’n string uitgehongerde soldate sosiale media toe en daar word hy nog verder verskeur, in die publiek, vir almal om te sien.

As jy al een van daai was wat gevoel het jy het die reg om ’n kunstenaar te verontagsaam, onthou volgende keer dat hy/sy, nes ek en jy, ’n mens bly. ’n Hardwerkende, toegewyde mens.

Die kunstenaars verdien beter.

*Christelle du Plessis beskryf haarself as ‘n sosiale vlinder. Sy is luidrugtig, besig en borrelend en wil graag aan haarself dink as ‘n baie sterk en vasberade jong vrou. Sy is die verloofde van die rocker, Don Cobra en ma van ‘n baie unieke Bull Terriër, Goa. Christelle, wat op ‘n plaas grootgeword, het, sê sy “dwaal deesdae in die strate van Pretoria” en kan gesien word waar daar lekker kuiers is. Sy geniet lang stappies kombuis toe om vir haarself ‘n toebroodjie te maak. Sy weet nie wat die verskil tussen Olmeca en Jose Cuervo is nie – solank as wat dit goud is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel