Die Wes-Kaapse polisie het die publiek gemaan om waaksaam te wees wanneer sosialemediaplatforms gebruik word om goedere te koop, te verkoop en af te lewer, veral in onbekende gebiede met hoë misdaadsyfers.
Dit volg op die moord op die Kaapstadse restauranteienaar, Ben Tuzee, wat verskeie kere in Brown’s Farm, Nyanga, gesteek is.
Tuzee was na bewering in die omgewing om ‘n potensiële koper van ‘n TV wat hy geadverteer het, te ontmoet.
Drie verdagtes van 23, 18 en 16 jaar oud het vlugtig in die Athlone-landdroshof verskyn en word volgende week terugverwag vir moontlike borgtogaansoekverrigtinge.
André Traut, polisiewoordvoerder, het versigtigheid gevra: “Ons het rede om te glo dat misdadigers hul belangstelling in ’n geadverteerde item op sosialemediaplatforms soos Marketplace as ’n lokmiddel gebruik om rooftogte of ernstiger misdade te pleeg deur hul slagoffers te lok om na hulle toe te kom.”




