‘n Vrou (27) het haarself aan die polisie oorhanding nadat sy haar pasgebore baba glo Donderdag omstreeks 09:00 in Simunye, Randfontein, in ‘n veld gelos het.
Bekkersdal-polisiewoordvoerder, sers. Linkie Lefakane, sê die ma het haarself oorhanding slegs ure nadat haar baba gevind is.
‘n Groep gemeenskapswerkers bekend as ‘Siriti’ het hul roetine-pligte in Simunye uitgevoer toe hulle ‘n baba in die veld hoor huil het.
“Hulle het gesoek en was verbaas om ‘n klein baba in ‘n plastieksak te ontdek. Hulle het die baba na die Simunye-kliniek gehaas waar sy versorg is en later na die Leratong-hospitaal oorgeplaas,” sê Lefakane.
Die baba is tans in ‘n stabiele toestand.
Die polisie is ontbied en ‘n saak van kindverlating is geopen.
Net ure later het ‘n vrou haarself by die Bekkersdal-polisiestasie oorgegee en gesê dat sy die ma van die verlate pasgebore baba is.
Sy sal binnekort in die Westonaria-landdroshof verskyn.
Die saak is intussen aan die Carletonville-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorhandig vir verdere ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



