Vrou sterf toe hospitaalbed aan die brand slaan

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou is dood nadat haar hospitaalbed in Bloemfontein by die Pelonomi Akademiese Hospitaal aan die brand geslaan het.

Volgens ‘n verklaring deur Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Vrystaat, is ‘n 47-jarige vroulike pasiënt Donderdag dood.

Die pasiënt het glo Woensdag ’n operasie ondergaan, waarna sy op suurstof was.

Nadat Tuberkulose (TB) by haar ontdek is, is sy geïsoleer om te keer dat die infeksie versprei. 

“Op 11 Augustus 2022, om 00:50, het die professionele verpleegster aan diens ’n harde geluid gehoor en by inspeksie besef dat die pasiënt se bed aan die brand was. Die verpleegster het hulp ontbied en die pasiënt is uit die hokkie verwyder en die brand is geblus. Gebruikte vuurhoutjies is in die hokkie langs die verbrande bed gevind.

“Al die ander pasiënte in die saal is ontruim en die geaffekteerde pasiënt is na die saal verskuif.”

Die pasiënt het 10% brandwonde aan haar middellyf en rug opgedoen waarna sy deur chirurgiese en hoësorgeenheid-dokters ondersoek is.

Volgens die verklaring het die pasiënt se toestand om 04:00 verander en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is sonder sukses toegepas.

Die pasiënt is om 05:45 dood verklaar.

 Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel