Familie soek steeds 34 jaar later na seun

Glenn se liggaam is nog nooit ontdek nie en los die polisie met meer vrae as antwoorde.

Dit is 34 jaar sedert die 14-jarige Glenn Wood geheimsinnig uit sy ouerhuis op George verdwyn het, en steeds weet niemand wat met die tiener gebeur het nie.

Volgens ‘n inskrywing op Consulting Detectives se Facebook-blad het ‘n man sewe jaar ná die verdwyning beken hy het Glenn vermoor.

Dié man is verhoor en skuldig bevind aan Glenn se moord, gegrond op getuienis wat hy gelewer het nadat hy opgesluit was vir die poging tot moord op sy meisie. Hy is in 2007 uit die tronk vrygelaat.

Ten spyte daarvan dat sy vrede gemaak het met die feit dat sy en haar familie nooit afsluiting sal kry nie, het Glenn se suster, Glynnis, gesê sy kan nie help om te wonder of daar iets meer aan haar broer se skielike verdwyning was nie.

Glenn se liggaam is nog nooit ontdek nie en los die polisie met meer vrae as antwoorde.

“Ek verwag nie om hom lewend te kry nie, maar waar is die liggaam?” vra Glynnis.

Sy is seker dat die veroordeelde nie die enigste een was wat by haar broer se verdwyning betrokke was nie, het sy in 2020 aan die George Herald gesê.

“Ek sê nie die veroordeelde was nie betrokke nie, maar ek dink dit is net ‘n deel van die storie.”

Die dag toe Glenn op 19 Julie 1988 uit sy huis in Heather Park verdwyn het, het ’n buurman kort ná 15:00 ’n voertuig voor die huis gesien.

Die buurman het glo vertel dat hy iemand by die voordeur gesien het, en minute later het die motor weer gery. Of Glenn in die motor was, kon hy nie sien nie.

In ’n onderhoud met Carole Charliewood van Carte Blanche in 1988 het Glenn se pa, Ian, gesê Glenn was nie tuis toe hy omstreeks 16:50 by die huis aangekom het nie.

Hy het ten tyde van sy verdwyning aan die Hoërskool York op George studeer en sou vanjaar 48 jaar oud gewees het.

Leon Rossouw van Consulting Detectives ondersoek steeds die “koue saak.”

Die destydse mediastorm ná die publikasie van die omstrede boek The Lost Boys of Bird Island het Glynnis se belangstelling geprikkel en sy sou graag wou sien dat Glenn se moord herondersoek word.

Jong tienerseuns is na bewering na Bird Island in Algoabaai naby Port Elizabeth geneem, waar hulle glo gemolesteer en verkrag is.

Drie voormalige ministers van die Nasionale Party was volgens beweringe in die boek sentrale figure in ‘n pedofielring wat gedurende die apartheidsera bedrywig was. Die gedrukte boek sowel as die e-boek is agterna na ‘n verskoning van NB-uitgewers onttrek.

Een van die ministers was bekend aan die Wood-familie. Glenn se pa, Ian Wood, was ‘n saagmeulbestuurder en het by verskillende geleenthede bosboutoekennings van die minister ontvang.

“By hierdie geleenthede was Glenn teenwoordig,” sê Glynnis.

Volgens Glynnis het die veroordeelde gesê hy het by ‘n vorige geleentheid met Glenn gepraat en aangebied om vir hom onderdele te kry van sy broer se fabriek wat radiobeheerde vliegtuie vervaardig het.

“Dit was ’n groot belangstelling van my broer,” vertel Glynnis.

“Glenn het die aand voor hy verdwyn het ons pa vir geld gevra en gesê hy het ‘n onderdeel vir sy vliegtuig nodig. Die inligting is egter iets wat die veroordeelde kon versin het, want die saak is wyd bekend gemaak.

“Hy het ook glo talle leuenverklikkertoetse gedruip. Hy is ‘n patologiese leuenaar. Hy kon nie eens vir ons die regte plek gee waar Glenn se liggaam vermoedelik gestort is nie. Op vier plekke is gegrawe, kilometers van mekaar af. Wildernis-sandduine, dele van die George-gholfbaan, ‘n plek in Sedgefield en een in die Outeniekwaberg.”

Kort ná Glenn se verdwyning het ‘n heldersiende die polisie gekontak en gesê sy kan hulle help om Glenn op te spoor.

Die heldersiende, Beverley Rhodes, het toe gesê Glenn is naby water waar daar bosse en bome is.

“Daar is ‘n hut naby met ‘n houtvloer en sakke teen die mure en vloer. As jy met jou rug na die see staan, ​​sal jy direk na die berge kyk,” het sy gesê.

Die hulp van drie ander heldersiendes is deur die tydskrif Huisgenoot opgesoek. Almal van hulle het gesê Glenn is naby water en bome.

Slegs ’n paar maande later het ’n sakeman van Port Elizabeth, die streekbestuurder van ’n bekende nasionale meubelgroep, in die George-landdroshof verskyn.

Hy is daarvan beskuldig dat hy twee 16-jarige seuns tussen Junie en Oktober dieselfde jaar gesodomiseer het. Hy is nie gevra om te pleit nie.

Volgens ‘n artikel uit die George Herald se argiewe (10 November 1988) deur Marinda Olwagen het ‘n reeks arrestasies regoor die land van Oktober tot November 1988 plaasgevind, nadat die polisie ‘n netwerk van kindermolesteerders ontbloot het.

‘n Bekende akteur en ‘n radiopersoonlikheid het toe reeds in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklagte van onsedelike aanranding en die besit van pornografie. Volgens die polisie was hierdie arrestasies “net die oortjies van die seekoei”.

Hulle het gesê baie arrestasies kan voor Kersfees 1988 verwag word, veral in die kunste, uitvoerende kunste en kommunikasiekringe.

’n Onlangse plasing op Facebook van Glynnis vir nabye familie ter nagedagtenis aan haar broer, het ’n wye gehoor bereik met meer as 14 000 delings, 3 500 reaksies en 1 300 opmerkings.

“Ek het dit nie verwag nie, dit is fenomenaal.”

Haar hoop is dat iemand dalk na vore kan kom met inligting sodat die saak weer heropen kan word.

“Ek kan nie help om vandag te wonder of iemand iewers inligting het wat hulle nooit in 1988 of daarna gedeel het nie … of dalk in ‘n kroeg iewers in die wêreld gedeel het …,”lui haar plasing.

“Glenn het op ‘n Dinsdag verdwyn. Hy sou daardie Vrydag draadjies aan sy tande kry. Hy het baie daarna uitgesien. Dis nog ‘n rede hoekom hy nie sou weggehardloop het nie,” sê Glynnis.

Glenn se ma, Britha Wood, is verlede jaar oorlede terwyl sy pa onlangs ‘n operasie ondergaan het en besig is om te herstel.

Sy pa het ‘n daaglikse joernaal gehou nadat sy seun verdwyn het en alles oor die saak gedokumenteer.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.