Ghislaine Maxwell verskuif na lae-sekuriteit gevangenis in Florida

Deel hierdie storie / Share this story

Ghislaine Maxwell is volgens berigte na ‘n lae-sekuriteit federale tronk in Florida gestuur om haar vonnis uit te dien vir die fasilitering van die mishandeling van minderjarige meisies deur Jeffrey Epstein.

Maxwell (60) is 20 jaar tronkstraf opgelê vir haar rol in die werwing van minderjarige meisies vir Epstein om te misbruik.

Volgens die Buro vir Gevangenisse is die eertydse sosiale vlinder na FCI Tallahassee, ‘n lae-sekuriteit gevangenis in Florida, verskuif.

Die skuif beteken na bewering dat Maxwell onder andere toegang sal hê tot aktiwiteite soos joga-kursusse, pilates, gewigte, sagtebal en frisbee.

Dit volg ondanks die aanbeveling van regter Alison Nathan, wat toesig gehou het oor Maxwell se verhoor, dat Maxwell na FCI Danbury in Connecticut gestuur word.

Die Buro vir Gevangenisse, wie se webwerf suggereer dat Maxwell op 17 Julie 2037 vir vrylating in aanmerking sal kom, sê daar is besluit om haar eerder na Florida te stuur.

Maxwell het gekla oor toestande by die Metropolitan Centre in Brooklyn, waar sy voorheen aangehou is, en beweer dat personeel haar regte geskend het deur herhaaldelik ligte in haar sel te laat skyn en haar kos wat vrot was te voer.

Die nuwe gevangenis, wat in 1938 geopen is, het ‘n bevolking van 755 gevangenes en huisves slegs vroue.

Volgens die gevangenis se reëls sal Maxwell elke dag om 06:00 wakker gemaak word en ‘n ID-kaart kry wat sy te alle tye moet dra.

Gevangenes se selle, wat twee gevangenes huisves, kan enige tyd vir smokkelware of gesteelde eiendom deursoek word.

Maxwell is in Junie tot twee dekades agter tralies gevonnis ná ’n hoëprofiel kriminele verhoor.

Met die vonnisoplegging het die regter gesê “‘n baie betekenisvolle vonnis is nodig” en sy wil ‘n “onmiskenbare boodskap” stuur dat hierdie soort misdade gestraf sal word. Sy het gesê Maxwell se optrede was “gruwelik en roofsugtig”.

“Me Maxwell het saam met Epstein gewerk om jong slagoffers te kies wat kwesbaar was en ‘n deurslaggewende rol gespeel in die fasilitering van seksuele misbruik,” het sy bygevoeg.

Maxwell is in Desember verlede jaar skuldig bevind aan sekshandel met minderjariges, sameswering om ‘n minderjarige te lok om te reis om aan onwettige seksdade deel te neem, en sameswering om ‘n minderjarige te vervoer met die doel om aan kriminele seksuele aktiwiteit deel te neem.

Sy is ook skuldig bevind aan die vervoer van ‘n minderjarige met die doel om betrokke te raak by kriminele seksuele aktiwiteit en sameswering om sekshandel van minderjariges te pleeg.

Bronne: The Evening Standard, Daily Mail

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Ghislaine Maxwell appelleer teen skuldigbevinding aan sekshandel