Krummelpap, ‘n variasie van mieliepap, is ‘n outydse Suid-Afrikaanse gunsteling en dit word deur die hele Suid-Afrika geëet!
Hierdie resep is vir ‘n egte tradisionele krummelpap. Dit wys jou stap vir stap hoe om hierdie heerlike boerekos-krummelpap voor te berei.
Die verhouding van water tot meel is die geheim vir heerlike krummelpap. Hoeveel water jy gebruik en hoe gereeld jy roer, maak die verskil tussen slap pap, stywe pap en krummelpap.
Dit is vinnig, jy benodig nie elektrisiteit nie (iets wat deesdae baie skaars is in ons land!) en dis ‘n hartlike, vullende gereg. Met ‘n klein bietjie bestanddele kan jy baie monde voed.
Tradisionele krummelpap-resep – genoeg vir 4 tot 6 mense.
Bestanddele:
1 koppie water
1 koppie meel
Stap 1: Gooi die water in ’n kastrol, geur dit met sout en bedek. Verhit dit tot kookpunt. Gooi al die meel op een slag by sodat dit op ’n hopie (toring) in die middel van die kastrol lê. Moenie dit roer nie
Stap 2: Sit die deksel op en kook die meeltoring vir 7 minute.
Stap 3: Krap die pap met ’n vurk los sodat dit fyn krummels maak.
Stap 4: Verminder die hitte en stoom die pap vir 20 tot 30 minute tot dit sag en gaar is.
Stap 5: Roer ’n klontjie botter in en skep op. Dit is heerlik met ‘n klein bietjie melk en suiker.
Ek het vir die kinders ‘n baie maklike metode geleer: Meng so ‘n halwe koppie mieliemeel met koue water tot ‘n gladde gedoente. Gooi dan die kookwater by en laat verder prut tot die meel gaar is. Jy kan bietjie meer meel byvoeg as die mengsel te slap is.



