Hospitale sukkel met beurtkrag terwyl kabinetslede dit vryspring

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings en Michele Clarke, DA-woordvoerder oor gesondheid,  is dit “skandalig” dat die Bryntirion-landgoed, ’n klein woonbuurt in Pretoria waar die amptelike wonings van president Ramaphosa se kabinet geleë is, vrygestel is van beurtkrag, terwyl hospitale nie is nie.

Volgens die standaard nasionale regulasie-beleidsdokument oor beurtkrag (NRS) is hospitale van die nasionale sleutelpunte wat gelys word onder instellings wat “geskeduleer is vir beurtkrag”.  

Hoewel hospitale volgens die wet verplig word om kragopwekkers te hê, eis die DA dat hospitale dringend vrygestel moet word van beurtkrag en die kabinet se Bryntirion-landgoed moet net soos almal op beurtkragskedules geplaas word.

Die politieke party is sterk van mening dat die NRS-riglyne dit nie opsioneel moet maak vir hospitale om van beurtkrag vrygestel te word nie.

Volgens die DA sal hierdie kwessie aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê word vir ’n onmiddellike hersiening van die NRS-riglyne. 

“Dit is moreel verkeerd vir die argitekte van die voortdurende beurtkragkrisis om ononderbroke kragtoevoer te hê, terwyl hospitale, wat dikwels in die wedloop teen tyd is om lewens te red, met ’n verlies aan krag en onbetroubare kragopwekkers moet sukkel.”

Toesigbesoeke wat die DA aan staatshospitale gedoen het om die impak van beurtkrag op die voorsiening van gesondheidsorg te bepaal, het aan die lig gebring dat die meeste van hierdie gesondheidsinstellings nie die nodige hulpbronne het om ’n stabiele kragtoevoer tydens beurtkrag te handhaaf nie. 

“Een van die hospitale, Raheema Moosa in Johannesburg, het onbetroubare kragopwekkers en het dikwels probleme met die verskaffing van diesel om die kragopwekkers aan te dryf.”

Die DA sê die ekonomie het honderde miljarde rande verloor en miljoene Suid-Afrikaners het hul werk weens beurtkrag verloor. “Maar tog kry die ministers se wonings in Bryntirion-landgoed steeds ononderbroke kragtoevoer.”

Die party sê dit was van die begin af ’n ondeurdagte besluit om hospitale op die nie-vrygestelde lys van instellings te plaas.

Die DA sê dit sal elke hulpmiddel tot sy beskikking gebruik om hierdie “oordeelsfout” reg te stel en die land se hospitale teen die ongerief van beurtkrag te beskerm.