’n Gesin van Ramotse, Hammanskraal, is steeds geskok nadat hul tweejarige seuntjie twee weke gelede onder vreemde omstandighede in sy slaap gesterf het.
Evelyn Tsoku het gister vertel van die dag toe haar nefie, Thabang Tsoku, deur sy ma dood gevind is.
Tsoku het gesê hulle kan nie verstaan waarvan hy gesterf het nie. “Hy het gedurende die week griep gehad, maar hy was oukei toe hy op 16 Junie sonder enige probleme gaan slaap het.”
Dit was dus totaal onverwags toe haar suster haar die oggend van 17 Junie bel met die nuus van sy dood. “Ons het twee hutte op die erf en ek het in die ander een geslaap. Ek was verbaas toe sy my omstreeks 06:00 bel. Ek het na buite gegaan en my suster met Thabang in haar arms aangetref. Sy kon nie praat nie en het hard gehuil. Ek het die kind by haar gevat.”
Tsoku het gesê toe sy die seuntjie sien, het dit gelyk of hy deur iets geëet en/of gebyt is, maar hulle kon nie agterkom wat dit kon wees nie.
“Sy oog was teruggedruk na binne en jy kon sien dat sy mond weggevreet is.”
Sy het gesê aanvanklik het die familie vermoed dit kon rotte wees wat die tweejarige aangeval het.
“Daar was geen bloed waar hy geslaap het nie, ook nie op die kombers en klere wat hy aangehad het nie … ons weet net nie wat met hom gebeur het nie.”
Die hele gesin was in skok na die traumatiese ervaring. “As jy Thabang net kon sien, was dit skokkend. ’n Mens kon sien dat dit die werk van mense was, of iets onnatuurliks. Sy ma was nie so lank gelede nie siek; sy kon nie eers uit die bed opstaan nie. Sy het ‘n geswelde oog gehad. Iets is beslis nie reg in ons gesin nie. Dit lyk of iemand teen ons is, maar wie dit ook al aan Thabang gedoen het, mag God met hulle wees,” het Evelyn gesê.
En, sê die tannie, Thabang was serebraal gestrem en kon nie beweeg of om hulp skree nie.
Die familie het gesê hulle het nog nie nadoodse uitslae van forensiese ondersoeke ontvang nie, dus is hulle steeds in die duister oor wat met hul baba gebeur het.
Bronne: Pressreader, MSN
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Amerikaanse firmas belowe om personeel se reiskoste vir aborsies te betaal



