Gemiddelde ouderdom vir dwelms in SA is 12

Die klem word jaarliks op 26 Junie deur die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) op onwettige handel in dwelms geplaas in die bewusmaking van middelmisbruik.

Ouderdom, groepsdruk, lae koste en maklike toeganklikheid tot dwelms en alkohol in Suid-Afrika verhoog die risikofaktore van misbruik onder adolessente en jong volwassenes.

Volgens die World Drug Report 2021 is die ouderdomsgroep wat die grootste risiko loop om dwelms te gebruik, jong mense tussen die ouderdomme van 15 – 34 jaar, veral in lae-inkomstelande.

Die gemiddelde ouderdom vir dwelmafhanklikheid in Suid-Afrika is ‘n verbysterende 12 jaar met 50% van Suid-Afrikaanse tieners wat alkohol gebruik.

Volgens dr. Busisiwe Twala, SADAG-projekbestuurder, het hulle ‘n toename in adolessente en jong volwassenes (tussen 13 en 35 jaar) gesien wat hul telefonies, via SMS en digitale kanale kontak.

“Tussen April 2021 en Maart 2022 het ons 89 992 jeugdiges gehad wat ons deur ons bestaande hulplyne kontak, ‘n toename van 107% vanaf 2020. Jonger mense gebruik gereeld WhatsApp en ons glo dat ons nuwe hulplynplatform meer opsies sal bied wanneer hulle ondersteuning en leiding soek.”

Twala sê om te erken dat daar ‘n probleem is, is die eerste stap om verslawing aan alkohol of dwelms te oorkom, maar om te besluit om uit te reik vir hulp is die nodige tweede stap. Nie alle jongmense is ewe kwesbaar vir dwelmmisbruik nie, maar jeugdiges is volgens navorsing meer vatbaar om te eksperimenteer en uiteindelik aan dwelms en alkohol verslaaf te raak.

Groepsdruk is een van die groot bydraende faktore tot dwelmmisbruik by die jeug.

Adolessente word deur hul vriendekringe gedwing, oorreed óf onder druk geplaas om dwelms of alkohol te probeer, en in baie gevalle word hulle mislei om te glo dat gebruik óf nie skadelik is nie óf dat daar geen gevolge daarvan sal wees nie.

Ander risikofaktore sluit in geestesgesondheidsiektes soos angs of depressie, isolasie, gebrek aan ouerbetrokkenheid, disfunksionele sosiale verhoudings en armoede.

Dwelmmisbruik onder leerders word gewoonlik geassosieer met misdaad, geweld, afwykende gedrag en afknouery en kan lei tot ‘n aantal geestesgesondheidsversteurings.

Die mees algemeen gebruikte middels volgens die jongste verslag wat deur die Suid-Afrikaanse Epidemiologienetwerk van Dwelmgebruik (SACENDU) vrygestel is, dui aan dat diegene jonger as 20 jaar wat in 2021 in behandelingsentrums opgeneem is, dagga as hul primêre gebruiksmiddel gerapporteer het.

Benewens alkohol, sluit gewilde dwelms wat deur adolessente gebruik word, die volgende in: tik, ecstasy, kodeïen (wat in baie hoesstrope voorkom), nyaope (‘n mengsel van verskillende middels soos skoonmaakmiddels, waspoeier, ander chemikalieë en selfs rotgif), flakka, kokaïen en Mandrax.

Tekens van verslawing:
• Verlies aan belangstelling in daaglikse aktiwiteite
• Afwesigheid van skool/uitval uit die skoolsisteem
• Verandering in vriendekringe (om saam te kuier met diegene wat gebruikers is)
• Om heeltyd buierig, negatief of bekommerd te wees
• Om te sukkel om te konsentreer
• Gebrek aan energie wat lei tot baie meer slaap
• Aggressiewe gedrag wat sal lei tot bakleiery en stryery
• Om misdaad te pleeg om die gewoonte te voed
• Rooi of opgeswelde oë
• Onverklaarbare gewigstoename of -verlies
• Gereelde loopneus

“Ten spyte van die vele redes waarom adolessente middels gebruik, insluitend ‘n begeerte om te eksperimenteer en om nuwe ervarings te verken, is dit belangrik om daarop te let dat alhoewel dwelms en alkohol dalk ‘n tydelike ontsnapping van probleme bied, die ernstige langtermyngevolge voorkom kan word deur vroeë intervensie,” sê SADAG.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.