Mense is altyd daarop uit om te kyk hoe hulle resepte gesonder, maar steeds lekker kan maak– met ander woorde om die “sleg” uit ‘n gereg te haal sonder om die lekker op te offer.

Hierdie sjokoladerol is eintlik te goed om waar te wees – dis koringvry, suikervry en bykans vetvry, maar smaak hemels, ‘n tipiese lekkergoed-resep.

Erythritol, ‘n suiker-alkohol wat nie in die bloedstroom opgeneem word nie, maar bykans net so uitgeskei word en ook in die keto-dieet gebruik kan word, word as plaasvervanger vir suiker gebruik en dit werk veral goed in gebak.

Maak 12-15 snytjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 20 min

Vir die sjokoladerol

6 groot eiers, geskei
150 g erythritol (lae kilojoule suiker-plaasvervanger)
50 g kakao
knippie sout
125 ml (½k) fyn amandels

Vir die vulsel

375 ml (1½ k) natuurlike jogurt
50 g suikervrye donker sjokolade (80 %), gesmelt
100 g vars bessies

Voorverhit die oond tot 180°C.

Spuit ‘n rolkoekpannetjie met kossproei en voer met bakpapier uit. Spuit weer en stuif liggies met kakao.

  1. Klits die eiergeel en erythritol saam tot lig en romerig.
  2. Vou die kakao, sout en fyn amandels in.
  3. Klits die eierwit in ‘n skoon bak met ‘n skoon eierklitster tot styf, roer bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.
  4. Skep in die rolkoekpan uit, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.
  5. Keer uit op ‘n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Koel af.
  6. Vulsel: Meng 60-125 ml van die jogurt by die sjokolade in en meng goed.
  7. Smeer die sjokoladesmeer oor die rolkoek en smeer van die jogurt bo-op. Pak van die bessies op en rol weer op.
  8. Rond af met ‘n smeersel sjokoladesmeer bo-op en versier met bessies. Stuif kakao oor.

Bron: Source Carmen Niehaus

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.