Grootste Springbok-ram in SA ‘weg’ – beloning van R30 000

Sy plaasbestuurder het aan hom genoem dat hy al vir die afgelope drie weke nie die ram sien nie.

Die grootste Springbok-ram in Suid-Afrika het sedert 19 Junie net spoorloos van die plaas Wildfontein in die Noupoort-omgewing verdwyn.

Volgens Dykie de Villiers vermoed hulle die ram, genaamd Oom Dyk, is nie op ‘n “natuurlike” wyse weg nie en daar is ook nie ‘n enkele karkas in die kamp waar hy al vir twee jaar saam met sy ooie loop, gekry nie.

Daar is ook geen teken van hom in aangrensende kampe nie.

Die ram was in ‘n kamp tussen die twee plaashuise, juis om te verhoed dat hy nie naby aan mense of enige paaie kom nie.

De Villiers, wat op Oubaai woon, vertel aan FiND iT dat hy twee weke gelede met ‘n groep jagters op die plaas gejag het toe hy besef het dat die ram nie in die kamp is nie.

Sy plaasbestuurder het aan hom genoem dat hy al vir die afgelope drie weke nie die ram sien nie.

Volgens De Villiers het die ram nog nooit met enige drade gekarring of draad gekruip of gespring nie.

“Daar is ‘n baie sterk vermoede dat hierdie besondere Springbok op een of ander onverklaarbare wyse nie meer op die plaas is nie!”

De Villiers vertel ‘n ram soos dié is letterlik ‘n leeftyd se werk met aanteel, aandag en tyd wat ingesit word om die soort gehalte bok soos “Oom Dyk” geteel te kry.

Daar is ‘n beloning van R30 000 vir enigiemand wat die ram aan De Villiers kan terugbesorg, lewendig of dood.

Enige persoon met moontlike inligting, skakel gerus vir De Villiers by 083 448-3363.

Daar is intussen ‘n diefstalsaak geopen.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.