Volgens die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Hermann, dui alle aanduidings daarop dat maskers en ander bestaande Covid-regulasies uiteindelik opgehef kan word.
Hy sê indien die regering alle oorblywende regulasies finaal terugtrek, beteken dit die einde van maskers dra, beperkings op getalle in stadions, teaters en kerke, asook reisbeperkings. Die vakbond het ‘n skrywe aan die regering gerig dat die regulasies nou finaal opgehef moet word voor hulle dit in die hof beveg.
Hermann sê Solidariteit is in besit is van ‘n brief van die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, waarin hy vra vir kommentaar vanaf provinsiale gesondheidsministers oor die moontlike opheffing van gesondheidsregulasies. Die minister stel glo in die brief voor dat die reël oor die dra van maskers, sowel as die beperking op saamtrekke, opgehef moet word.
‘n Vertroulike bron het die egtheid van die brief aan Solidariteit bevestig.
Dié brief, wat op Maandag 20 Junie vrygestel is, dui daarop dat die rede vir die voorstelle die jongste Covid-19-syfers is wat aandui dat die virussiekte tans oor die algemeen lae bevestigde gevalle, lae hospitalisasies, ‘n lae positiwiteitskoers en lae aantal sterftes tot gevolg het.
Die kabinet sal binne die volgende 48/72 uur vergader om die voorstelle te oorweeg.
“Indien die regering dit nie gaan doen nie, gaan Solidariteit vra vir ‘n strafkostebevel in die hof,” sê die vakbond.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



