Die Hoër Meisieskool Oranje se vyf A-netbalspanne het geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer almal in die top-2 in die Vrystaat te eindig en sodoende vir die nasionale kampioenskappe te kwalifiseer.
Vier spanne – die o.14’s, o.15’s, o.17’s en o.18’s – is vanjaar se Vrystaatse kampioen. Die o.16’s is die naaswenner. Die SA’s vind in Augustus in Boksburg plaas.
Dis slegs die tweede keer in Oranje se netbalgeskiedenis dat vier van die vyf A-spanne die provinsiale wenner is. Dit het ook in 2019 gebeur.
Die eerste span het Vrydag vir Sentraal in die eindstryd met 26-23 geklop om die trofee wat in 2019 verower is (die laaste keer wat die kampioenskappe plaasgevind het), te behou. Dis die heel eerste keer wat die o.18A’s in dieselfde jaar die distrik (Motheo)- en provinsiale wenner is. OMS was verlede maand in die Motheo-eindstryd ook teen die Tralies met 39-35 baas.
Oranje het vir Voortrekker in die halfeindstryd met 29-17 verslaan en in die groepfase met Wilgerivier (31-14), Goudveld (28-13) en Witteberg (44-3) afgereken. Die span het tans ’n wenpersentasie van 93% (41 uit 44) en is in die derde posisie op die nasionale ranglys.





