Vrou op luukse landgoed vermoor

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 79-jarige bejaarde vrou, Marietha Willemse, is Saterdagoggend wreed in haar huis op die luukse landgoed, Pinnacle Point, vermoor.

Na bewering is sy in haar nek met ‘n skerp voorwerp gesteek, terwyl sy op haar lessenaarstoel in die slaapkamer gesit het. Haar man, Johannes (86), het ook ernstige steekwonde opgedoen. Hy sterk tans in die hospitaal aan.

Die huiseienaarsvereniging het Maandagoggend die gebeure aan FiND iT bevestig.

Die vereniging het sy medelye aan die naasbestaandes van die oorledene oorgedra, en ook ondersteuning wat benodig mag word, aangebied.

“Die voorval is Saterdagoggend aan die landgoed se sekuriteitsafdeling gerapporteer, en die SA Polisiediens is ook in kennis gestel. Die SAP ondersoek die saak. Video’s wat deur die landgoed se veiligheidskameras opgeneem is, is aan die SAP verskaf om hulle met hul ondersoek te help. Die SAP en Pinnacle Point se ondersoeke duur voort,” sê Harry Hill namens die huiseienaarsvereniging van Pinnacle Point-landgoed. 

Die landgoed beskik oor gevorderde sekuriteitskameras en stelsels wat 24 uur per dag in werking is. ‘n Interne ondersoek het in hierdie stadium geen defekte of stelselonderbrekings getoon vir die tydperk waartydens die voorval moontlik kon plaasgevind het nie.

Veiligheid bly die landgoed se prioriteit:

Die St Blaize- openbare wandelpad, waaroor ‘n servituut geregistreer is, loop oor die omheinde landgoed van 438 hektaar.

Veiligheidswagte is 24 uur per dag aan diens by die wandelpad se ingange, en dit word ook deur termiese en analitiese sekuriteitskameras gemonitor.

Die landgoed grens vir ongeveer 4,3 kilometer aan die kuslyn wat meestal met groot, ruwe rotse bedek is, en plek-plek ook hoë afgronde het. Die res van die landgoed grens aan digbeboste, onbewoonde munisipale eiendom.